Skip to content
Menu

Lees: Matteus 27:27-37; Jesaja 52:13-53:6

ONS KONING IN SY LYDING

Aan die kruis op Golgota hang ‘n bloeiende man. Die Man van smarte. Kort van tevore was daar nog die ‘helderrooi mantel, die doringkroon en die riet in sy regterhand.’ Tekens wat die swakheid van sy koningskap aantoon. Skreeusnaaks was dit vir die soldate daar teenwoordig. Die opskrif bo aan die kruis vat dit saam. ‘Dit is die Koning van die Jode.’ Dit bring jou vanoggend by die vraag: Wil jy dit? So ‘n Koning? ‘n Koning van Smarte. Dit druis teen ons sondige aard in. Maar vir ons redding het ons ‘n Koning nodig wat die lyding deurstaan. Die gekruisigde Christus bepaal wie ons is. Hy bepaal die geskiedenis van die mensdom.

SY LYDING BEPAAL JOU WÊRELDBEELD

Wil jy so ‘n Koning? Die vraag hang ‘n bietjie af van die ander konings wat in ons wêreld aanwesig is. Twee konings wat die wêreldbeeld van die ongelowige vorm. Twee magtige konings met enorme heerskappye. Paulus sê dat hierdie twee konings die sonde en die dood is. Twee konings wat Jesus Christus moet neerwerp en verslaan. In Romeine 5:17 lees ons dat deur die oortreding van die een mens die dood as koning begin heers het. En ook in vers 21 – Net soos die sonde deur die dood geheers het, sal ook die genade deur die regverdiging heers en tot die ewige lewe lei deur Jesus Christus, ons Here. Paulus noem die sonde en die dood konings met groot mag en invloed. Hierdie sonde en dood is vreemd aan die wêreld wat die Here gemaak het. Die paradys was daarsonder. Aan die kruis dra ons Koning die sonde uit die wêreld uit en Hy gee die dood die doodsteek. Dit bepaal ons blik op die wêreld.

SY LYDING BEPAAL JOU GODSBEELD

Jesus het op die aarde gely. Dit was waarom Hy op die aarde was. Lyding was nie sy lewenslot nie, dit was sy lewenswerk. Liggaamlik en geestelik. Jesaja beskryf hoe ons Here Jesus se liggaam gelyk het. Hulle het Hom so gemartel – ‘Baie mense was ontsteld oor Hom, Hy was so misvormd dat Hy nie meer soos ‘n mens gelyk het nie.’ Die soldate het Hom so geslaan en mishandel dat sy naastes Hom nie eers meer sou herken nie. Maar ook sy siel het gely, sy hele lewe lank. Christus as die Heilige moes voortdurend asemhaal in ’n sondige dampkring. Gegesel en gemartel. Liggaamlik en geestelik. Bloed en trane. Jesus Christus, die Man van Smarte – waar is daar iemand aan Hom gelyk? So iemand bestaan nie. Dit vorm ons Godsbeeld. As ons besef wat Christus deurgaan het, besef ons wie God is. Besef ons hoe groot sy liefde vir ons is.

SY LYDING BEPAAL JOU SELFBEELD

Jesus Christus het vir ons gely. Hy het aan die kruis gesterf sodat ons nie vir ewig hoef te ly nie. Christus is vervloek sodat ons nie vervloek hoef nie te wees nie. Ons vind ons identiteit by die evangelie van die kruis. Ons is nie van die wêreld nie, ons is van Christus. Ons is bevry van die aardse konings – sonde en dood. Deur Christus is jy van jou sondes skoongewas. Deur Christus is die angel van die dood uitgehaal. Deur Hom is die dood vir ons ‘n deurgang tot die ewige heerlikheid. Deur Hom, ons Koning wat deur God verlaat is, sodat ons nooit sonder God sal wees nie.

GESPREKSPUNTE

1. Hoe ervaar jy in die praktyk die werklikheid van die nuwe lewe en die aantrekkingskrag van die ou lewe.

2. Wat is die krag van die evangelie in jou daaglikse stryd teen die sonde?

3. ‘Ek is vir die sonde dood.’ Leef dit in jou hart?