Lees: Johannes 11:1-27; Jesaja 53:7-9;
ONS KONING IN SY GRAF
Oor die graf van ons Here Jesus Christus is daar heelwat vrae. Ons weet Christus het gesterf, maar hoekom moes Hy sterf? Hoekom kon Hy nie direk opvaar na die hemel nadat Hy gesê het: Dit is volbring, nie? Hoekom moet ons vandag nog sterf as Christus al vir ons gesterf het? Hoekom moet ons deur hierdie pynlike proses gaan? Dit maak die Here vir ons duidelik uit sy Woord. Vir die christen is daar Christus. Deur Hom benader ons hierdie onderwerp, want deur Hom is die sterwe vir die gelowige wins.
CHRISTUS SKYN DEUR DIE DOOD
Jesus Christus het gesterf. Daarvan getuig al vier die evangeliste. Jesus sê dit self in Openbaring 1:18 – ‘…en kyk, Ek was dood…’ Christus moes sterf, want dit is ‘n noodsaaklike deel van sy vernedering. In die paradys het die Here vir Adam gesê: ‘Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.’ Die gevolg van opstand teen God – Die dood. Dit is die straf van die mens. God is ‘n regverdige God. Hy staan vas in sy waarheid. Daarom moes Jesus sterf – Jesus Christus moet die doderyk in, om dit te oorwin, sodat die dood vir ons ‘n deurgang word.
CHRISTUS VERLIG DIE GRAF
Nadat Jesus gesterf het, het hulle Hom begrawe. Sy graf dien as bewys dat Hy werklik gesterf het. Christus se begrafnis is belangrik vir ons vandag. Na die dood gaan ons die ewige lewe in, maar die liggaam wat agterbly val nie buite beeld nie. Christus se begrafnis het die posisie van ons liggame wat hier agterbly geheel en al verander. Christus het daarvoor gesorg dat ons grafte slaapkamers word. Daar mag ons liggame rus. Daar mag hulle wag tot die wederkoms. In Johannes 11 verduidelik Jesus dit by die sterwe van Lasarus. Hy het geweet Lasarus het gesterf en tog sê Hy vir sy dissipels: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” Vir Jesus is die dode net so bereikbaar as iemand wat diep in die slaap is. Hy sal roep en die persoon sal hoor. “Lasarus, kom uit! Die oorledene het uitgekom.” Christus verlig die graf. Hy skyn daardeur. Hy wat sê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het Hy ook gesterf.”
CHRISTUS STAAN OP UIT DIE GRAF
In Johannes 21:7 sê Martha vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” Daarop antwoord Jesus: “Jou broer sal opstaan.” Martha dink dat Jesus oor die opstanding op die laaste dag praat. Vroeër het Jesus vir hulle daarvan vertel. Johannes 5:28,29 – “Moenie julle hieroor verwonder nie, want daar kom ‘n tyd wanneer almal in die grafte sy stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe.” Jesus is die opstanding van die lewe. Hy breek die bande van die hel. Hy oorwin die dood. Opstanding en lewe het hulle grond in Hom. Paulus skryf in Romeine 6:8,9 – “Ons weet dat Christus, nadat Hy uit die dood opgewek is, nie weer sterf nie – die dood het nie meer seggenskap oor Hom nie.”