Skip to content
Menu

    Romeine 3:9-31

“Almal het trouens gesondig en die eer aan God ontbreek by hulle, en tog word hulle goedgunstig deur sy genade vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus.” (Romeine 3:23,24)

ALLES NET GENADE

In die Here se Woord leer Hy vir ons, ons is sondig. As ons mooi na Romeine 3 luister, dan is dit baie duidelik. Op basis van ons eie kragte, sou geeneen van ons, ooit in staat kon wees om onsself te red nie. Dit is belangrik om dit te besef, want eers as jy dit besef, kan jy die grootheid van die genade verstaan. In Romeine 3 sien ons hoe God se regverdigheid en liefde bymekaar kom. Met oë wat deur die geloof geopen is, besef jy dat dit werklik alles net genade is.

Die verlore mens

Alle mense het in Adam gesondig – want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. Baie mense hou nie daarvan om dit te hoor nie. Hoe kan iemand nou wil sê – alle mense is sondig. Alle mense is sleg en skuldig. Die reaksie van die sondige mens is amper altyd dieselfde. As die vinger na jou gewys word, dan wys jy vinnig jou vinger na iemand anders. Gereeld word die vinger na God gewys. Die oorsaak van die ellende en die sonde lê by die mens self. Op die bodem van al die vrae in die wêreld – lê die sondeskuld. Alles is uit balans uit daardeur. Net daardeur sit ons met soveel katastrofiese probleme vandag. Ons as mense is nie slagoffers nie, moedswillig is daar in die sonde geval. In vers 10 skryf Paulus: ‘Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.’ Deur die ongehoorsaamheid van een het baie sondaars geword. As jy dit besef, dan dwing dit jou tot die wete dat jy redding nodig het. God is groot, ons klein. Skuldig staan ons voor Hom. Die hele wêreld staan skuldig voor God. (Rom. 3:19)

Die reddende God

In alle rus  (in aansluiting by Sagaria 1 van vanoggend) het die mens in sonde geval. Die sondeval het nie met groot aardbewings en geluide gepaardgegaan nie. Die mens het ook nie skielik na die sondeval anders gelyk nie. Maar in sy binnenste was die mens verskeur. Liefde maak plek vir haat.

Direk na die sondeval gryp die Here alreeds in. Hy laat ons almal die verdoemenis nie ingaan nie. Christus is alreeds daar besig. Dit sien ons duidelik in die Here se optrede. Al verdien die mens dit om nooit weer God se aangesig te sien nie, laat God dit nie daarby nie. God rig ‘n soekende vraag van liefde aan Adam: Waar is jy? Alhoewel die Here weet wat gebeur het,  gee Hy geleentheid dat die mens sy skuld kan bely en om vergifnis smeek. Hierin sien ons die genade van die Here. Dit is verseker nie onregverdig, dat baie mense verlore gaan nie, maar dit is onpeilbare genade, dat sommige behou word. Die liefde van God is hierin geopenbaar, dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Dit is inderdaad soos wat daar in vers 24 staan – ‘en tog word hulle goedgunstig deur sy genade vrygespreek deur die bevryding in Jesus Christus.’

Gesprekspunte

  1. Waarin sien jy die grootheid van God en jou verlorenheid?
  2. Hoe word genade in jou lewe sigbaar?
  3. Hoe geniet jy van die genade van die Here in jou lewe?

Ds. Gerben Meijer