Skip to content
Menu

Romeine 9:3-16

‘WIE IS JÝ TOG, O MENS, OM GOD TE WEERSPREEK? KAN DIE ERDEWERK VIR SY MAKER SÊ: “WAAROM HET JY MY SÓ GEMAAK?’

GOD SE VERKIESING STAAN VAS

Die uitverkiesing is een van die sake waaroor daar in die verlede en vandag baie verskil is. Mense het heelwat vrae hieroor. Hoekom ontvang sommige mense geloof van God en ander mense nie? Is God nie oneerlik nie? In Romeine 9 gee die Here vir ons antwoord. Die Here het vrymag om te kies wie Hy wil. “Jakob het Ek liefgehad, maar van Esau het Ek ‘n afkeer gehad.” Wat sal ons dan sê? Is daar dan enige onreg by God? Geensins! Vir Moses sê Hy tog: “Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm, en Ek sal barmhartig wees teenoor wie Ek barmhartig wil wees.” Dit berus dus nie by die mens wat wil en hom inspan nie, maar by God wat Hom ontferm.

GOD SE BESLUIT IS EWIG

Alreeds voor die grondlegging van die aarde het die Here se verkiesing plaas gevind. Reeds toe het Hy besluit saam met wie Hy tot in ewigheid sal leef. In Romeine 9 skryf Paulus dit. Nog voordat die kinders gebore is het die Here vir Jakob liefgehad en vir Esau gehaat. Nog voordat haar kinders gebore is of iets goeds of kwaads gedoen het, is vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” Dit het gebeur sodat God se voorneme volgens sy uitverkiesing sou bly staan, nie op grond van mense se dade nie, maar op grond van Hom wat roep.

GOD SE BESLUIT IS BARMHARTIG EN REGVERDIG

God is barmhartig om sekere mense in Christus in te lyf. Hulle word deur God uitverkies. God is ook regverdig om ander die verdoemenis te laat ingaan. Dit is die takke wat nie vrug dra nie. Individue wat se harte verhard is vir Christus en die evangelie. Hulle haat God en hulle haat hulle naaste. Sulke mense is deur God verwerp. Paulus verduidelik soos volg: Want wie kan sy wil teengaan?” Wie is jý tog, o mens, om God te weerspreek? Kan die erdewerk vir sy maker sê: “Waarom het jy my só gemaak?” Of het die pottebakker dan nie die reg om uit dieselfde stuk klei ‘n voorwerp vir edele gebruik of vir onedele gebruik te maak nie?

GOD SE BESLUIT GEE TROOS

Vir die uitverkorenes gee die Here ‘n diepe troos. Deur die geloof wat ons van Christus ontvang, mag ons daarin deel. Hy wat sê – Niemand kom tot die Vader behalwe deur My nie. Deur die werk van die Heilige Gees werk die Here sekerheid in ons harte. Met oortuiging weet ons – God se verkiesing staan vas. In ewigheid sal ons saam met God leef. Jy mag vashou aan die Here se beloftes. Wat God begin, sal Hy voltooi. Hy is getrou. As uitverkore kind van God, kan niemand jou uit die hand van Christus ruk nie.

Gesprekspunte

1. Hoe verstaan jy die uitverkiesing van God?

2. Lees Romeine 9 nog ‘n keer deur. Wat openbaar God in die hoofstuk oor Homself?