Skip to content
Menu

Sagaria 2:8

“So sê die Here die Almagtige: Wie aan julle vat, vat aan my oogappel.”

‘N OOGAPPEL IN DIE OË VAN DIE HERE

Wat sê die Here vir ons vandag met die tweede naggesig van Sagaria? Aan die einde van Hoofstuk 1 het ons die gesig gehoor. In Sagaria 2:6-9 word die gesig vir Sagaria verduidelik. Vanuit die verduideliking blyk dit dat hierdie gesig vir ons baie betekenis vandag het. Die Here plaas die wêreldgebeure binne perspektief en Hy plaas ons fokus op Jesus Christus. Hy wat deur God gestuur is.

VIER HORINGS EN VIER AMBAGSMANNE

Ek het weer ‘n gesig gesien. Daar was vier horings…en vier ambagsmanne. In van die ander vertalings word daar van smede gepraat. Sagaria wil weet wat dit nou beteken. Die uitleg is eenvoudig. Die vier horings verteenwoordig die heidennasies wat teen Israel opgetree het. Die Here het hulle gebruik om sy volk te straf, maar hulle het hulleself te buite gegaan. Die getal vier is die getal van die wêreld. Daarmee word aangetoon dat dit die wêreldheersers van oor die tye is. Vir elke horing stuur die Here ‘n smid, ‘n ambagsman. Hierdie ambagsmanne deins nie terug vir harde werk nie. Hulle is nie bang vir die hitte van die vuur nie. Met mag en mening bring hulle die horings tot ‘n val. Dit is die boodskap wat Sagaria vir die Israeliete moet bring. Dink net aan die effek wat dit vir hulle sou gehad get. Hulle was moedeloos. Die toekoms was donker. Nou word die kamera uitgezoom. Israel mag die situasie deur die oë van die Here sien. Dan lyk dit anders. Daar is verseker vyande, maar die Here stuur sy ambagsmanne.

HY WIE DIE HERE STUUR

Die smede is vir Sagaria nie opvallend nie. Sy oë was op die horings gefokus. Die Here moet sy aandag op hulle spits – ‘Toe laat die Here my vier ambagsmanne sien’. Daar is ‘n groot verskil tussen hulle en die horings. Die doel van die horings is om af te breek. Die doel van die ambagsmanne is om op te bou. In die loop van die geskiedenis is daar al baie gewonder oor wie hierdie manne nou is. Is dit ander volke, of aartsengele, of die apostels van ons Here Jesus? Wie dit is word nie gesê nie. Daar word wel aangetoon dat die vyande van God se volk nie sonder perke hulle gang kan gaan nie. Hiervoor het God sy Seun gestuur. Die volk is sy oogappel. Die Here sal hulle teen vyande beskerm en daarvoor stuur Hy sy Seun ons Here Jesus Christus. In vers 8 en 9 word Hy genoem – ‘So sê die Here wat my met volmag gestuur het…dan sal julle weet dat die Here die Almagtige my gestuur het.’ Wie word gestuur? Jesus Christus. Sagaria profeteer oor Hom. Die groot ambagsman wat die horing finaal neerwerp. Hy wat die oogappel van die Here beskerm.

HOOP EN MOED

Die vyande van God se volk word oorwin en vernietig. Dit moet die Israeliete besef. Hierdie boodskap is vir ons vandag ook bemoedigend. ‘n Gesig laat iets van die werklikheid in ons wêreld sien, wat jy met jou eie oë nie opmerk nie. Dit vra geloof. Of jy saam wil kyk na dit wat God openbaar. En dan gee dit ook soveel perspektief, hoop en moed. As ons vandag vyandskap teen die kerk sien, aanvalle ervaar, onderdruk word, dan toon die Here vir ons hier aan dat Hy van dit alles bewus is. Sy oog is op sy kerk. Op sy kinders, sy oogappel. Sy Seun het oorwin en sal alles eendag ten volle herstel. Dit gee hoop om ondanks alles vas te hou. Dit gee moed om ondanks alles aan te gaan. Die Here van die leërskare sal jou soos sy oogappel beskerm.

Gesprekspunte

1. Watter troos en hoop ontvang jy uit hierdie gedeelte?

2. Hoe ervaar jy die beskerming van die Here in jou lewe?