Skip to content
Menu

Johannes 1:1-14; 1 Johannes 2:3-17

‘EN DIE WOORD HET VLEES GEWORD EN ONDER ONS KOM WOON, EN ONS HET SY HEERLIKHEID AANSKOU, ‘N HEERLIKHEID SOOS DIÉ VAN HOM WAT UNIEK VERWEK IS DEUR DIE VADER — VOL GENADE EN WAARHEID.’

MY IDENTITEIT IN JESUS CHRISTUS

Regoor die wêreld word daar elke dag duisende babas gebore. Kinders groei op in verskillende kulture en omstandighede. Hierby sluit elkeen van ons aan. As kind gebore. Opgegroei met planne en ideale. Hard gewerk op skool en universiteit. Aktief besig om jou loopbaan te beoefen. In dit alles staan ons stil by die vraag: wie is jy? Waarmee is jy besig? Wat bepaal jou identiteit? Dit bring ons by die geboorte van ons Here Jesus Christus. Deur Hom jaag ons nie deur die lewe nie, maar kan ons in alles wat ons doen saam met God wandel.

GOD IS DIE WARE LIG

Johannes die doper is geroep om vir die mense te vertel van die lig. Die lig waaroor ons lees in vers 5: ‘En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.’ en in vers 9: ‘Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld.’ Jesus Christus is werklik die goddelike lig van die wêreld, wat reddende verskyn. Deur Hom word dit vir mense moontlik om gered te word. Deur die verkondiging van die evangelie word elkeen wat dit hoor opgeroep om te glo. Dit is wie Hy is. Op ‘n duidelike manier maak die Here aan ons bekend wie sy Seun is. Hy is ons Redder en Verlosser.

ONS WANDEL IN DIE WARE LIG

Wie is ek? Hoe pas ek in die raadsplan van die Here in? As mens het die Here my gemaak om saam met Hom in ‘n intieme verhouding te leef. In die tuin van Eden het die Here saam met Adam en Eva gewandel. Ook na die sondeval was dit moontlik vir mense om saam met die Here te wandel. Daar is genoeg voorbeelde daarvan in die Bybel. Om saam met die Here te wandel beteken dat in die lig van Jesus Christus leef. As jy saam met God deur die lewe gaan dan leef jy anders. Dan leef jy volgens sy wil. Dit word geken deur naasteliefde. Die wêreld eis dat jy op mekaar moet trap om bo uit te kom. Daar is nie ruimte vir broederliefde nie. Dit is elkeen vir homself. Dit is nie die identiteit van ‘n kind van die Here nie. Met geopende oë deur die geloof weet jy dat die Here jou gemaak het om Hom te dien. Met alles wat jy het en is staan jy in sy diens. Leef jy die liefde wat jy van Hom ontvang uit.

ONS GETUIG VAN DIE WARE LIG

Johannes die doper het van die lig getuig. Vers 7 en 8 sê dit. ‘Hy het tot ‘n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom kon glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig..’ Die wêreld moet weet van die werke van Jesus Christus. In die bergrede sê Hy: – ‘Julle is die lig van die wêreld. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê kan nie weggesteek word nie.’ Getuies is ons vandag hiervan. Lewe ten volle in die lig van die Jesus Christus. Die Woord wat vlees geword het. Wandel in dié lig en getuig daarvan met oorgawe.