Skip to content
Menu

Sagaria 3

“Trek uit dié liederlike vuil klere van hom…Ek het jou jou oortredings vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek”

‘N BLIK IN DIE HEMEL

Elkeen van ons het op hierdie aarde vyande. Of jy dit nou weet of nie. In elk geval is een vyand van elkeen. Die groot teenstander. Hy is ‘n vyand, nie van vlees en bloed nie, maar van die gees. ‘n Vyand wat in die geestelike wêreld verwoed tekere gaan. Ons noem hom die duiwel of Satan. Van hom lees ons in Sagaria. Hy kla vir Josua aan. Dit is wat hy doen. Ook vandag. Hy soek na dinge wat hy teen ons kan gebruik en altyd is daar iets wat hy kan gebruik. Elkeen van ons het sonde. Nou gebruik hy dit om ons verhouding met die Here te breek. Gelukkig slaag hy nie hierin nie. Dit maak die Here aan ons bekend in die 4e naggesig aan Sagaria.

‘N AARDSE PROBLEEM

Die visioen skuif ons gedagtes na die hemel. Na daar waar die hemelraad vergader. Die engele, die aartsengele is daar by die Here en daar word iets soos ‘n hofsaak gehou. Josua die Hoëpriester staan voor die Engel van die Here. Dit is Jesus Christus. Die Seun van God in sy Ou Testamentiese gestalte. Die Woord wat nog nie vlees geword het nie. Aan die regterhand van Josua staan die Satan om hom aan te kla. Die probleem: Josua pas nie in die gemeenskap waar hy nou staan nie. Hy het vuil klere aan. Hy staan uit tussen die engele wat suiwer en skoon is. Sy besoedelde kleed is ‘n vloek in die sfeer van reinheid in die hemel. Hoe kan so ‘n priester nou toegang hê tot die tempel van die heilige God? Hoe kan Hy tot die Here nader vir versoening vir die volk? Hoe kan hy vir die kerk op aarde as voorspraak intree by God in die hemel? Dit is tog nie moontlik nie.

‘N SATANIESE AANKLAG

Hier hoor ons die aanklag van die duiwel. Die duiwel blaas dit aan! Kan dit sommer maar net so wees? Hoe kan die Here saam met so ‘n volk wil leef? Hoekom wil Hy met sulke sondige mense ‘n verhouding hê? Die priesterskap moet ‘n einde kry, so ook die volk. God moet ‘n einde maak aan Israel. Dit is die rigting waarheen die Satan beweeg. Die klag is – kyk hoe sondig is hulle. Josua se klere is vuil. Soos Josua destyds voor die Here met vuil klere gestaan het, so staan die kerk vandag nog voor die Here. Dit is nie moeilik vir die Satan om ons hier op die aarde swart te smeer nie. Met ons eie sondes kry ons dit reg. Presies dit doen die Satan. Dit is sy aanval: Jy pas nie regtig by God nie. Jy is veels te sondig. Dink jy dat jy so onrein voor God kan verskyn? Hy is jou teenstander. Met graagte hang hy jou vuil wasgoed op sodat almal dit kan sien. En dan gaan hy ook nog na God toe met ‘n beskuldigende vinger…kyk net wat doen hy of sy!

‘N HEMELSE ANTWOORD

Maar dit is nie die laaste woord nie. Die Satan word bestraf. Josua word nie uit die hemel verwyder nie. Nee ons hoor – Trek uit dié liederlike vuil klere van hom…Ek het jou jou oortredings vergewe en Ek gaan vir jou skoon klere aantrek. God self neem inisiatief. Uit liefde vir sy volk. Op basis van sy keuse vir Jerusalem. Of die hoëpriester nou geskik is of nie, Hy maak hom geskik. God se kinders wat vuil is, maak Hy skoon deur Jesus Christus. God se genade is groot.

GESPREKSPUNTE

1. Hoe dra jy elke dag die nuwe simboliese feestelike klere?

2. Watter betekenis het hierdie profesie vir jou vandag?