Skip to content
Menu

  Sagaria 4

“Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige”

DIE BRANDENDE KANDELAAR

Die engel skud vir Sagaria wakker met die vraag: Wat sien jy? Hy sien iets wat kom uit die tyd voor die ballingskap. Die goue kandelaar met sewe tuite en lamppitte wat brand. In hierdie gesig bevestig die Here sy belofte aan sy kinders. Dit is dat Hy sy kerk sal bewaar. Die kandelaar stel die kerk voor. Die kerk wat dien as lig in die wêreld. Die kandelaar sal nooit gedoof word nie. Deur alles heen sal God haar onderhou.

Deur sy krag

Al vir ‘n geruime tyd is die volk besig om die tempel te herstel. Dit gaan stadig en met heelwat moedeloosheid gepaard. Dit wat hulle bou is niks in vergelyking met die pragtige tempel wat koning Salomo opgerig het nie. Deur Sagaria bemoedig die Here sy volk. Die Here sit die mense in beweging. Hulle moet nie op eie kragte reken nie, maar op die Here se krag. Die kerk is syne, Hy sorg daarvoor. Die volk moet aan die werk spring…met hulp van God. Met hulp van God se Gees. Sagaria sien ‘n kandelaar. Hierdie kandelaar lyk anders as die kandelaar uit die tempel en hy werk ook anders. Hierdie kandelaar hoef nooit deur mensehande gevul te word nie. Langs die kandelaar is daar twee olyfbome wat sorg dat die kandelaar van olie voorsien word. God sorg dat sy kerk ‘n brandende kandelaar is.

Deur sy middele

Die kandelaar kan nie sonder olie brand nie. Die kerk kan nie sonder olie lig gee nie. Die olie van die gemeente, van Sagaria se tyd en van ons sin, is die Heilige Gees. Die Here sorg dat daar vir die kandelaar ‘n oorvloed van olyfolie is. Daar is selfs sewe tuite daarvoor. ‘n Teken dat dit met volheid gevul word. So werk dit ook in die gemeente van Jesus Christus. Die Heilige Gees werk in die gemeente. Deur Hom is ons in staat om ons geloof uit te leef. Om die lig van die evangelie uit te dra. Die Heilige Gees werk deur verskillende kanale. Die verskeidenheid van gawes in ons gemeente is groot. Ons ontvang die olie van die Heilige Gees om te gee. Om ‘n brandende kandelaar in die wêreld te wees. Die Gees bring ons in beweging. Vandag bou ons aan die geestelike huis van die Here.

Op basis van die Bron

“Wat beteken daardie twee olyfbome weerskante van die kandelaar?…Wat beteken die twee bondels olyftakkies langs die twee goue pype waaruit die goudkleurige olie stroom?…Weet jy nie wat dit beteken nie?…Nee, Meneer…Dit is die twee gesalfdes wat in diens staan van Hom aan wie die hele aarde behoort.” As die twee gesalfdes letterlik vertaal word, is dit seuns van die olie. Die twee wys na die Gesalfde Jesus Christus. Dit is Hy wat die olie, die Heilige Gees, dag en nag sonder ophou aan ons voorsien. Hy is die bron. So bly ons as gemeente van Christus staande. Ook in die uitdagende tye wat ons nou leef. Niks sal die lig van die Here se kerk uitdoof nie, want die Here sorg. ‘Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.’ Gevul met Olie van bo staan ons in diens van die Here.

Gesprekspunte

  1. Hoe ervaar jy die werking van die Heilige Gees in jou lewe?
  2. Watter betekenis het hierdie profesie vir jou vandag?

Ds. Gerben Meijer