Skip to content
Menu

2 Tessalonisense 1:3-12

‘6 Dit is inderdaad vir God reg om diegene wat julle verdruk, met verdrukking te vergeld 7 en verligting te gee aan julle wat saam met ons verdruk word.’

VERSOENING DEUR VOLDOENING

Vir ons om met God versoen te word, moet daar eers vir ons skuld betaal word. God eis dit. Hy is ‘n regverdige God. Vir die sonde moet daar betaal word. Geen versoening sonder voldoening. Deur die werk van die Heilige Gees in ons, weet ons dat ons self nie regkom nie. As dit van ons afgehang het sou ons nooit met God versoen word nie. Ons kan nie self voldoen aan die skuld nie. Daarom bring die Here ons tot by die belydenis van Jesus Christus. Hy kan wat ek nie kan nie.

God se regverdigheid in Christus

Die wêreld waarin ons leef is vol van onreg. Een blik na buite en daar is geen twyfel aan nie. Daar waar iemand onreg aangedoen is, word meestal geëis dat die reg moet geskied. Jy maak ‘n saak by die polisie, sodat die persoon wat so misdaad begaan, gestraf word. Daar moet teen die mense opgetree word. Maar wat baie mense vergeet, is dat die onreg wat ons as mense doen. Die sondes wat ons hier op die aarde pleeg, en deur die loop van die eeue is dit al baie, eerstens teenoor God is en dan teenoor ons medemens. En God eis dat daar vir al hierdie sondes betaal word. God is regverdig. Die sonde van die mens sal gestraf word. Want so het die Here ons nie gemaak nie. Die Here het ons gemaak om volgens sy wil te leef. Die Here het ons as mense na sy beeld geskape. Adam en Eva het hier op die aarde volgens die wil van die Here geleef tot die dag wat hulle in opstand gekom het en in die sonde geval het. Hulle het geweet dat die straf op die sonde die dood is. Daarom eis God dat daar vir die sonde betaal moet word. Daar moet aan die straf voldoen word.

God se barmhartigheid in Christus

Vir die sondes moet betaal word. Self kan ons dit nie doen nie. Ons kan nie onsself van God se toorn bevry nie, want ons skuld maak ons elke dag net meer. Die mens kan nie homself van God se toorn bevry nie. Maar daar laat die Here dit nie by nie. Hy weet dit is noodsaaklik vir ons om gered te word. Die reg moet geskied. Daarvoor voorsien Hy. En dat Hy sy Seun in ons plek gee, is bewys van sy oneindige barmhartigheid. Ons kan nie vir die sonde betaal nie, maar Hy kan. Dit het Hy kom doen. Die Here gee Hom vir ons, uit liefde, as Borg. Hy staan vir ons in. Neem ons plek in. Hier word gewys na Hebreërs 7:22 – ‘in sovêr het Jesus van ‘n beter verbond borg geword.’ ‘n Borg is iemand wat vir jou instaan. Hy doen wat jy nie kan doen nie. Dit is aangrypend as jy besef wat Christus vir jou doen. Jy as mens wat vol onreg is. Wie se sonde by die dag meer word. Daarvoor het Christus aan die kruis betaal. Dit is werklik soos wat Markus skryf – Die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy siel te gee tot redding van baie. Hierin sien ons die liefde en barmhartigheid van die Here vir sy uitverkore kinders.

Gesprekspunte

  1. Hoe gaan jy met onreg in hierdie wêreld om?
  2. Hoe ervaar jy die liefde en barmhartigheid van die Here? Hoe word dit konkreet in die dinge wat jy daagliks doen?

Ds. Gerben Meijer