Mattheus 3:1-12
“Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele is op hande…Maak die pad vir die Here gereed, maak sy paaie reguit…Ek doop julle wel met water met die oog op bekering, maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek.”
GEDOOP MET DIE HEILIGE GEES EN VUUR
Johannes die Doper se prediking is aan die kerk gerig. Die Here praat deur sy profeet met ons vandag. Tussen al die duisende hoorders staan ek en jy. Ons hoor die oproep om te stop met die sonde en om met die verkeerde te breek. Radikaal! Hierdie boodskap van Johannes weerklink deur die evangelie. ‘n Boodskap van geloof en bekering. Van verbondsbeloftes en eise. Hierdie oproep veroorsaak in baie mense se lewens onrus. Dit moet so wees. Die Woord van die Here bring ons in beweging. Dit is ‘n heilsame beweging. Weg van die verkeerde na die pad van die Here toe. Op pad na sy vrederyk.
Gedoop met die Heilige Gees
Johannes sê: Hy wat na my kom sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Die volgorde met die Heilige Gees en met vuur hoor ons al in sy prediking. Eers verkondig hy die genade van die Here. Die koninkryk van die Here is op hande. Dan kom die oproep tot bekering. Die fondament vir bekering is die genade van God. Hieroor het Johannes gepreek. Al was sy woorde vol oordeel het die mense kom luister. Die rede: die genade van God word verkondig. Daarvan is die doop waarmee hy gedoop het ‘n teken. Dit is ‘n teken van ‘n nuwe begin. ‘n Oproep tot inkeer gaan altyd gepaar met ‘n belofte van genade. Hulle wat hulle sondes bely het, is deur Johannes gedoop met die doop van vergewing en vernuwing. Die sonde word afgewas en die toewyding aan God word vernuwe. Johannes het hiermee begin. Jesus het beveel om hiermee verder te gaan. Daar het wel heelwat verander. Deur Christus word ons gedoop in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees. Die Heilige Gees is uitgestort. Hy woon en werk in ons harte. Deur Hom is die genade van die Here in ons lewens konkreet. Hy bring ons by sondebesef, by ‘n nuwe begin. Hy lei ons in verootmoediging, daaglikse bekering en die stryd teen die sonde. Hy werk in ons soos ‘n suiwerende vuur.
Opgeroep tot bekering
Bekering is ‘n blywende oproep. ‘n Deurlopend aksie. Om jouself te verootmoedig, jou sondes te erken en te bely, hoort by glo. Die een keer is dit dieper en intensiewer as ‘n ander keer. Soms weet jy baie goed dat jy verkeerd is. Soms kom jy agter dat jy iets al vir ‘n lang tyd verkeerd doen. Dan eis die Here bekering. Hy eis beweging in ons. Die beweging van sonde bely en genade ontvang. Dit is wat die Heilige Gees in ons doen. Die kaf word van die koring geskei. Die kaf word verbrand en die koring bly oor. Deur die genade van Christus sterf die ou mens in ons af. Deur die krag van die Gees leef daar in ons ‘n nuwe mens.