Sagaria 5:5-11 & Romeine 6:11-14
‘Hy het haar teruggestamp in die mandjie en die looddeksel oor die bek toegeklap.’
BEHEERS DEUR DIE HEILIGE GEES
Toe Israel uit ballingskap terugkeer, het hulle die sonde saam teruggebring. Die ou mens kon hulle nie heeltemal agter los nie. Solank ‘n mens leef kom hy saam. Hiervoor gee die Here nou twee visioene. Eers die een van die vlieënde vloek en nou een wat aantoon dat die sonde in ballingskap moet gaan. Verloste mense is nuwe mense. Jesus Christus heers deur sy Heilige Gees oor jou en in jou, niks of niemand anders nie.
Die mag van die sonde
Sagaria sien ‘n graanmandjie wat aankom. In ander vertalings word dit ‘n efa genoem. Dit is ‘n doodgewone huis en kombuis artikel. Daarmee het hulle koring afgemeet. Die efa in die gesig is baie groot. So groot dat daar ‘n mens inpas. Dit kom Sagaria vinnig agter toe hy sien dat daar ‘n vrou binne in sit. Hierdie vrou is die sonde in lewende lywe. Die engel sê – ‘Dit is die goddeloosheid.’ Hierdie vrou is sterk. Sy is magtig. Sy wil nie vassit in gevangenis nie. Daarom lig sy die ronde looddeksel van die mandjie op. Hierdie deksels het ongeveer vyftig kilogram geweeg. Hier sien ons dat die sonde nie ingeperk wil word nie. Die goddeloosheid wil uitgeleef word. Sy wil die hele aarde deurtrek.
Die almag van die HERE
Die hemelse krag is sterker as die mag van die bose. Die engel stamp haar terug in die mandjie en maak die deksel toe. Vervolgens word die efa en die vrou in ballingskap gestuur. Radikale optrede is nodig. Die sonde mag nie meer oor ons heers nie. Dit is kragtig op ons vandag van toepassing. Ons bely dat Jesus Christus ons Redder is omdat Hy ons van ons sondes verlos het. Ons moet onthou dat Hy ons nie net van die straf gered het nie, maar ook van die heerskappy. Jesus Christus is deur sy Gees in jou lewe in beheer. Hieroor skryf Paulus aan die Romeine. Hy sê vir hulle –‘Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God…Die sonde mag beslis nie oor julle heers nie; julle is immers onder die genade.’ Die sonde is magtig, maar ons God is almagtig. Deur die geloof hou Hy ons staande.
Die krag van die geloof
Die Here rus ons toe met die wapenrusting van die geloof. Daardeur gee Hy vir ons krag hier op die aarde in die stryd wat ons voer. Ons moet besef dat ons in ‘n radikale stryd betrokke is. Die erns daarvan is lewe of dood. Met Jesus Christus as ons voorganger ontvang ons krag. Deur die geloof sien ons hoe groot die sonde is, maar nooit is dit te groot nie. Beheers deur die Heilige Gees staan ons hier in sy diens.
Gesprekspunte
- Wat wil die Heilige Gees in jou lewe doen?
- Hoe ervaar jy die werking van die Heilige Gees in jou?
- Hoe verstaan jy, aan die hand van die gesig van Sagaria, die verhouding tussen God die Vader, Seun en Heilige Gees?
Ds. Gerben Meijer