2 Timotheus 4:6-22
‘9 Doen jou bes om gou na my toe te kom, 10 want Demas het my verlaat: Hy het die huidige wêreld liefgekry… 14 Aleksander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen.’
GOD BEWAAR SY EIENDOM
‘n Klompie jare gelede het daar ‘n boekie op die mark verskyn met die tema: Die leë testament. Dit was die produk van ‘n studie wat gedoen is onder jong mense, wat die kerk verlaat. Wat die Woord van die Here as leeg en niksseggend beskou. Hierin is mense met ‘n aktuele onderwerp gekonfronteer: Wat gaan in die kerk aan? Waarom verlaat soveel mense die kerk? Vanaand staan ons stil by dié onderwerp. Ons bely dat elkeen wat verlos is, verplig is om by die kerk aan te sluit. In 2 Timotheus 4 sien ons ‘n lys van medegelowiges wat deel was van die kerk, maar daar is ook ‘n paar wat die kerk verlaat het.
Die volharders in die geloof
Dit is besonder troosryk om te weet dat die Here sy eiendom getrou sal bewaar en nooit een van sy uitverkorenes sal verloor nie. Op meerdere plekke in die Bybel bevestig Hy dit vir ons. In sy laaste brief aan Timotheüs skryf Paulus teen die einde van sy lewe met oortuiging: Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Die Here gee vir ons sekerheid. Hy maak ons bymekaar as sy kerk en daarin sien ons sy bewaring. Dit is goed om op hierdie twee sake te fokus. Dit is God se bewaring en ons volharding. Ons fokus moet op die Here se werke wees. Net omdat Hy aan die werk is, kan ons volhard. Net omdat Hy ons as kerk bymekaar bring, kan ons bymekaar wees. Deur die geloof ontvang ek sekerheid dat ek ware lid van die kerk van die Here is. Net omdat die Heilige Gees my in Christus ingelyf het. Omdat die Here deur my getuig, dat ek ‘n lewende bousteen in sy koninkryk is – Elkeen is verplig om by die ware kerk aan te sluit.
Die wat die kerk verlaat
Jare gelede het die Remonstrante gesê dat ons in hierdie lewe geen sekerheid sal ontvang of ons sal kan volhard of nie. Die Here leer vir ons anders in die Woord. Dit is wel so dat hulle wat nie uitverkore is nie, met die tyd die kerk van die Here sal verlaat. In 2 Timotheüs 4 het dit gebeur. Demas het die kerk verlaat omdat hy die wêreld liefgekry het. Waar dit gebeur is dit hartverskeurend. Veral as dit binne ons eie families plaasvind. Maar nooit sal dit met die uitverkore kinders van die Here gebeur nie. Hierby berus ons onsself.
Gesprekspunte
- Waarom verlaat soveel mense in vandag se tyd die kerk?
- Hoe verstaan jy dit dat almal verplig is om by die ware kerk aan te sluit?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com