Lees: 1 Petrus 1:1-9, 17-21 en 2:1-5 Teks: 1:2
Uitverkiesing: ‘n Fontein van alle saligheid vir my lewe van elke dag!
Inleiding: Ons weet dat ons God vir sy genade in die uitverkiesing moet prys. Geen mens verdien om uitverkies te word nie. In 1 Petrus 1:2 vind ons verdere rede om God vir die uitverkiesing te verheerlik. Dit is uit die vers duidelik dat ons nie die uitverkiesing moet beskou as ‘n irrelevante dogmatiese klomp redenasies waarvan gelowiges hoogstens net kan kennis neem nie. As ek weet ek is uitverkies, sal dit ingrypende betekenis hê vir my lewe van elke dag.
Ek behoort.
Petrus se lesers was in die plekke waar hulle gewoon het, “vreemdelinge” (vgl. v.2). Hulle vreemdelingskap het vir hulle verskriklike lyding ingehou (vgl. bv. 4:12-19). Vir hierdie gelowiges beklemtoon Petrus reg aan die begin van sy brief dat hulle uitverkies is. Vir hulle gee hy ook detail besonderhede van hulle uitverkiesing. Hy sê eerstens dat die uitverkiesing plaasgevind het “volgens God se voorkennis.” God het voor die grondlegging van die wêreld die mense oor wie Hy hom ontferm, geken – nie net in die sin van inligting oor hulle gehad nie. “Ken” wys op ‘n intense verhouding, ‘n verhouding wat ‘n mens se lewe bestem. Omdat Hy my geken het, het dit my lewe in ‘n spesifieke rigting gestuur. En let op: dit is God “die Vader”, die Vader van Jesus Christus (vgl. v. 3), wat ons – ons wat glo – geken het. Dit mag wees dat ek as gevolg van baie dinge in hierdie lewe ‘n “vreemdeling” is. Ek weet egter dat ek onder liefdesorg van ‘n Vader, die Vader van Jesus Christus, leef. Ek is uitverkies volgens die voorkennis van God die Vader.
Ek is werklik verander.
My uitverkiesing het verdere en ingrypende betekenis vir my lewe van elke dag. Omdat ek uitverkies is, is ek werklik verander. Uit vers 2 kan ons drie konkrete veranderings uitlig:
- Ek leef as deur-die-Heilige-Gees-afgesonderde mens.
Met hulle wat uitverkies is, gebeur daar iets besonders in hierdie lewe. Hulle word uitgeruk uit die sfeer van verwyder-wees-van-God. Die Heilige Gees heilig hulle – Hy sonder hulle vir God af. Hy verseël hulle as God se eiendom. As gelowige mag/moet ek met die sekerheid leef dat ek afgesonder is, deur God die Heilige Gees afgesonder is, vir God afgesonder is.
- Ek leef as iemand wat gehoorsaam in geloof geantwoord het.
‘n Uitstaande eienskap van uitverkore mense, is dat hulle “gehoorsaam” is (v. 2). Hierdie is ‘n spesifieke gehoorsaamheid. Dit is die geloofsantwoord op God se openbaring. My uitverkiesing het ‘n besondere gevolg: ek glo. Dus: ek word nie uitverkies omdat ek glo of omdat God vooruit gesien het ek sal glo nie. Ek glo omdat ek uitverkies is.
- Wie uitverkies, leef as priester.
My uitverkiesing het ook ‘n ander gevolg. Ek word met die “bloed van Jesus Christus besprinkel.” Petrus beklemtoon in sy brief die priesterskap van gelowiges (vgl. 2:5 en 9). Ons kan dus aanvaar dat die frase in 1:2 “met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word”, ‘n verwysing is na die wyding van priesters in die OT (vgl. Eks. 29:19-21). In die nuwe bedeling is elke gelowige deur die versoening wat Jesus Christus bewerk het, ‘n priester. Omdat ek uitverkies is, leef ek as priester wat met my lewe vir God lewende offers bring (vgl. 2:5).