Lees 2 Tessalonisense 1:1-10. Teks: vers 5
God se oordeel verskrik my nie in hierdie tyd nie. Dit bemoedig my.
Moenie God se oordeel in die tyd waarin ons nou leef, wegredeneer nie!
Gelowiges beroep hulle met vaste grond daarop dat God hulle van die oordeel vrygespreek het. Vanweë Christus se verdienste leef ons onder God se genade. Ons is daarom versigtig om nie die omstandighede waarin ons die afgelope tyd leef, met God se oordeel te verbind nie. Dit is egter opmerklik dat Paulus die “verdrukking en vervolging” wat die gemeente in Tessalonika ervaar het, uitdruklik met God se oordeel in verband bring. Lyding en swaarkry in hierdie lewe het beslis alles te doen met die sondeval, met sonde en met God se oordeel. Paulus sê byvoorbeeld in Romeine 8:20-21 “Want die skepping is onderwerp aan ‘n sinlose bestaan, nie uit eie keuse nie, maar deur Hom wat dit daaraan onderwerp het.” God se oordeel begin reeds in die bedeling voor die wederkoms (vgl. bv. 1 Petrus 4:7). Ons moet met grondige insig in hierdie tyd oor God se oordeel dink.
Dink aan God se oordeel (sy oordeel in hierdie tyd) as ‘n bewys wat bemoedig.
Paulus sê dat die vervolging en verdrukking wat die gemeente in Tessalonika ervaar, ‘n bewys is. Dit is ‘n bewys van die “regverdige oordeel” van God. Die vraag is: “Hoe kan dit ‘n regverdige oordeel wees as dit juis God se kinders is wat ly?” As ook ons wat glo, wat God aanbid en Hom dien, in hierdie tyd intens swaarkry, hoekom sou dit ‘n teken wees van God se regverdige oordeel? Sou dit nie eerder regverdig wees as ons die swaarkry gespaar word en dat net die ongelowiges ly nie? Ons teksgedeelte lei ons om met insig drie antwoorde te gee:
- Sien God se magtige werk binne jou terwyl die regverdige oordeel reeds begin het.
Dit is volgens verse 4-5 nie net die swaarkry van die gemeente wat ‘n bewys is van die regverdige oordeel van God nie. Dit is die swaarkry én die gelowiges se “volharding” en “geloofsvertroue” te midde van die swaarkry, wat ‘n teken is. Die regverdigheid van die oordeel is daarin geleë dat God kragtig in sy kinders werk dat hulle met vertroue op God te midde van die lyding nie swig nie, maar aanhou om op God te wag. Verstaan jy, gelowige, hierdie teken, hierdie volharding in geloof?
- Behou ‘n koninkryksperspektief.
Uit vers 5 is dit ook duidelik wat God met sy kinders bereik terwyl sy oordeel hier op aarde begin het. Deur die regverdige oordeel laat Hy hulle groei om meer en meer sy koningskap in hulle lewe te erken en onder sy regering te leef. Hy lei hulle tot by die punt waar Hy hulle in sy groot genade waardig ag vir sy koninkryk. Het jy, gelowige, hierdie koninkryksperspektief op die lyding wat ons tans verduur?
- Onthou waarop jou swaarkry afstuur.
In verse 8-10 word duidelik gemaak dat die lyding en regverdige oordeel in hierdie lewe, heen stuur na die wederkoms en die volle oordeel van God. Met die wederkoms kom die skeiding. Die verskrikking van hulle wat in die oordeel van hierdie lewe God bly verwerp het, word duidelik uitgespel in verse 8-10. Hoe word ons wat met insig God se regverdige oordeel in hierdie lewe verstaan, nie in dieselfde verse bemoedig nie? Verdrukking verander in verligting (v.7), Saam met die ander gelowiges, sal ons Hom wat saam met sy magtige engele in ‘n vuurvlam geopenbaar word (v. 7-8), verheerlik en Hom bewonder (v.10). As die swaarkry dreig om te veel te word, gelowige, onthou waarop God se regverdige oordeel (in hierdie lewe) vir jou afstuur!