Skip to content
Menu

Filippense 3:1-4:1

“10 en sodat ek Christus kan ken, die krag van sy opstanding en die verbondenheid met sy lyding, deur aan sy dood gelykvormig te word, 11 en ek so, hoe dan ook, die opstanding uit die dood kan bereik.”

OM JESUS CHRISTUS TE KEN

In Filippense 3 druk Paulus homself radikaal uit. Sy woorde is eintlik eenvoudig – In hierdie lewe draai alles rondom een saak. Dit is om Jesus Christus te ken. Dit is waardevol. Die aardse dinge beskou Paulus selfs as verlies as hy dit vergelyk met die ken van Jesus Christus – Maar wat vir my ‘n bate was, reken ek nou as verlies ter wille van Christus. Inderdaad reken ek alles as verlies ter wille van die uitnemendheid daarvan om Christus Jesus, my Here, te ken. Die ken van Christus gaan alles te bowe.

Die krag van sy opstanding

Ek wil Christus ken en die krag van sy opstanding ervaar. Paulus ken die krag van Christus se opstanding. Wat is nou die krag van die opstanding? Dit is ‘n krag wat in jou lewe werksaam is. Wat die dood in jou lewe oorwin. Dit stimuleer jou tot bekering. Dit vernuwe jou lewe deur die Heilige gees. Sodat daar weer ruimte is vir liefde, blydskap en hoop. Christus se opstanding gee energie. Dit bring verandering – bekering, bevryding, beweging. Christus het sy bloed gegee vir ons vergifnis, Hy het sy Gees gegee vir ons vernuwing. Vanoggend staan ons hierby stil met die doop. Gedoop met die bloed en die Gees van Christus. Die krag van Hy wat opgestaan het. Dit is die krag van die opstanding van Christus in die lewe van christene.

Die gemeenskap met sy lyding

Ek wil Christus ken. Ek wil deel wees van sy lyding. Dit is die tweede saak wat Paulus oor die kennis van Christus noem. Hy ken die gemeenskap met Christus se lyding. Ek deel in Christus se lyding. Wie dit sê staan by Golgota en sien daar die Here aan die kruis hang. Wie dit sê kyk radeloos om hom heen op soek na hulp. Maar kom tot die besef – My lyding is aan Christus verbonde. Ek is nooit alleen nie. Die deel in die lyding van Christus bring nederigheid in ons lewens.

So kry die lewe uitsig

Om Jesus Christus te ken het gevolge vir die toekoms. ‘deur aan sy dood gelykvormig te word…’ Dit is ‘n besondere manier om te sê: Ek sal ooit tot sterwe kom. Vir gelowiges staan ook hulle dood in die lig van Christus. Want Hy plaas ons fokus op die opstanding. Wie Christus ken, word nie in die doderyk agter gelos nie, maar mag saam kom. Die Here haal jou daar uit sodat jy vir ewig saam met Hom kan leef. Dit is die hemelse prys waarvan Paulus skryf.

Gesprekspunte

  1. Ken jy vir Christus? Of weet jy baie van Christus? Wat beteken dit om Christus te ken?
  2. Lees hoofstuk 3 nog ’n keer deur. Wat sal ons help om standvastig in die Here te bly? (4:1)

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com