Efesiërs 3:1-21
“19 ja, om die liefde van Christus te leer ken wat alle begrip te bowe gaan, sodat julle gevul mag word met al die volheid van God.”
Om die liefde van Christus te ken
Onder normale omstandighede sou ons vandag die sakrament van die nagmaal saam gevier het. Saam sou ons aan die tafel van die Here sit om in ons geloof versterk te word. Met verlange en honger sien ons hierna uit, maar tot dan toe plaas ons die fokus op sy Woord. Die sakrament versterk die geloof. Die Woord bewerk en versterk dit. Luister na die woorde van Paulus, in die slot van Efesiërs 3. Hy toon vir ons aan wat ons alles van Christus ontvang. Hierin laat hy sien, waarvoor daardie klein stukkie brood en klein slukkie wyn staan. Dit wys na ‘n almagtige oorvloed. Na die onpeilbare rykdom wat ons in Christus Jesus het.
Christus vir ons
In vers 8 word daar gepraat van die ‘onpeilbare rykdom van Christus.’ Dit is die inhoud van Paulus se prediking. Dit gaan dus oor iets onpeilbaar. Die volheid hiervan sal ons nooit omvat nie. Jy sal deurlopend meer oor Christus ontdek. Dit sal altyd moontlik wees om in die geloof te groei. Hy gaan alles te bowe. Sy liefde is sonder grense. In die ewigheid van God, is ons as mense baie klein. Christus daarteenoor, bestaan van ewigheid tot ewigheid. En Hy is al vir eeue besig met ons. Op Golgota bereik die wêreldgeskiedenis sy klimaks. Daar tree Christus vir ons in. Die rykdom wat ons van Hom ontvang is werklik onpeilbaar.
Christus in ons
Verwonderd staan ons voor die onpeilbare werk van die Here. Die gekruisigde leef! Die lewende Christus wil in ons woon. Hy wil met ons gemeenskap hê. Hy verbind Homself aan ons. In vers 17 staan daar: ‘om Christus deur die geloof in julle harte te laat woon.’ dit staan in verband met vers 16 – ‘om deur sy Gees met krag na die innerlike mens versterk te word.’ In Galasiërs 2:20 staan daar – ‘ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my!’ In Johannes 15:5 sê Jesus: ‘Ek is die druiwestok, julle die lote.’ Ek is in julle, en julle is in my. Christus vir ons word Christus in ons. Christus wil in ons woon.
Christus deur ons
‘…aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk in staat is om oneindig meer te doen as alles wat ons bid of dink…’ (vers 20) As ons deel is van Christus, moet daar nie iets gebeur nie – as Christus in ons is, sal daar iets gebeur. As Christus in jou is, verander jou lewe. Hy verander jou gedagtes, jou gevoel en jou doen en late. Deur die werking van die Heilige Gees, is dit die diepste werklikheid in jou lewe. Jy mag deel in die onpeilbare rykdom van Jesus Christus. Daar is niks groter as dit nie.
Gesprekspunte
- Ken jy die liefde van ons Here Jesus?
- Hoe ervaar jy die veranderende krag van Jesus Christus in jou lewe?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com