Skip to content
Menu

Genesis 1:9-13
Maleagi 3:6-12

‘Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het.’
(NGB Artikel 12)

GOD SKEP LEWENSRUIMTE VIR DIE MENS (3) 

Hierdie week is die lente weer in volle gang. In ‘n kwessie van ‘n paar dae het die seisoen verander. Die koue winter is verby. ‘n Droë tydperk van ysige koue, waar die bome kaal is, en daar nie veel groei op die aarde nie. Nou het die lente weer begin. Die weer is weer warm, die bome kry weer nuwe blaartjies, en die natuur word weer groen. As jy die natuur so van naby aanskou, dan sit dit jou aan die dink. Want waar kom al hierdie dinge nou vandaan? Hoe verder jy dink hoe meer besef jy, hoe wonderlik dit alles in mekaar steek. Hierin aanskou ons die almag van God. Op die derde dag maak Hy die grond droog en skep Hy die grasspruitjies, die plante en die bome, elkeen volgens sy orde. Hy maak dit so dat dit eeue later nog steeds standhou.

God gee vir ons droë grond

Op die derde dag maak God skeiding tussen die waters en die land. Hy versamel die waters op een plek en noem dit see. Ons het in Psalm 33:7-9 daarvan gesing: ‘Hy versamel die waters van die see soos ‘n hoop; Hy bêre die wêreldvloede weg in skatkamers. Laat die hele aarde vir die Here vrees; laat al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees; want Hy het gespreek, en dit was; Hy het gebied, en dit staan.’ Die mens kan nie in die see leef nie. Ons as mense het land nodig. Die Here voorsien ons hiermee. Ons sien die almag van die Here dat Hy beheer het oor die woeste see. Geen mens kan die see beveel om te beweeg nie, net die Here het beheer daaroor. Dit sien ons toe Jesus hier op die aarde was. In Markus 4 sê Hy vir die wind en die see: ‘Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het ‘n groot stilte gekom.’

God gee vir ons voedsel

Op die droë land groei daar grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat vrugte dra. God maak vir ons kos. Hy weet wat die mens nodig het om te eet. Maleagi maak aan ons bekend hoe belangrik hierdie feit is. Alles wat ons op hierdie aarde het is gawes van die Here. Die Here voorsien mildelik.

‘In die vierde nagwaak het Jesus na hulle toe aangeloop gekom op die see.’ (Mattheus 14:25)

Gesprekspunte

  1. Hoe leef jy in dankbaarheid voor die Here met die geestelike sowel as die liggaamlike gawes wat Hy vir jou gee?
  2. Wat is vir jou opvallend van dit wat die Here op die derde dag geskep het?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com