Lees Spreuke 21:1-17. Teks: vers 1
Die Here sal ook die huidige koning(s) soos water lei tot voordeel van sy gesaaides.
Is die mag van die koning(s) regtig so onbeperk?
Met die gebeure wat die afgelope tyd in die politieke arena in SA plaasgevind het, het ‘n klomp onsekerhede saamgekom. Watter faksie in die ANC gaan die oorhand kry en waarheen sal die faksie die land stuur? Sal daar ooit die politieke wil kom om op te tree teen die mense wat soveel miljarde gesteel het? Gaan die owerheid voort gaan om deur dwase stappe die land se ekonomie verder te ruïneer? Laat ons vra: “Is die mag van regeerders so onbeperk soos dit vir ons voel en moet ons maar net magteloos sit en toekyk wat gaan gebeur?”
Ook ons “koning(s)” se harte is in die hand van die Here.
In ons teksvers vind ons ’n baie duidelike antwoord op die vraag. Die digter sê dat die hart van die koning in die hand van die HERE is. Hierdie beeld word verder duidelik gemaak. Soos waterstrome lei die Here die koning se wil (hart). Die beeld wat die digter gebruik verwys na water wat via vore uit ’n groot stroom na gesaaides gelei is. Water stroom, soos ons weet, as gevolg van swaartekrag eenvoudig voort. Deur vore te grou en sekere versperrings in die water se weg te plaas, is water gestuur na waar die boer dit wou hê. Teen die tyd dat die water by die gesaaides kom, kon die boer dit maklik beheer en sorg dat al die gesaaides sonder verspoeling water kry. So lei die Here die wil van die koning ook. Die koning het baie mag en storm dikwels in eiewaan voort. Maar soos die boer juis die voort stroom van die water gebruik om dit by die gesaaides te kry, so neem die HERE ook die koning in sy diens. Die Here maak ook vore en plaas ook versperrings in die weg. So stuur hy die koning. So het Hy ook vore gegrawe en versperrings geplaas toe Jesus op aarde was. En as die maghebbers (Jode en Romeine) voortstorm en Jesus kruisig, dan is dit juis hoe die Here sorg dat die lewenswater by sy gesaaides uitkom. Hoekom sal ons as sy gesaaides dan twyfel dat ons nuwe “koning” in die hand van die HERE is?
Wie weet dat die nuwe “koning(s)” se hart in die hand van die Here is, word geroep om:
- te bid,
- die Here te vertrou,
- bereid te wees om as “voor” of “versperring” te dien,
- ander te versterk, te verkondig en om op ‘n spesifieke wyse onderdanig te wees.