Genesis 1:14-19
Prediker 3:1-8
‘Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het.’
(NGB Artikel 12)
ONS TYD IN GOD SE HAND (4)
Tyd is ’n besondere ding. Oor tyd het mense al jare lank gepraat en gefilosofeer. Ure lank al daaroor nagedink. Want wat is tyd? Dit raak elkeen van ons, want elkeen van ons is daaraan gebonde. Elkeen van ons se lewe is gekoppel aan tyd. Salomo het dit jare gelede al so beskryf. Dit lees ons in Prediker. Hy skryf hoe die mens aan tyd gebind is. Daar is ’n tyd om ’n gebore te word, en daar is ’n tyd om te sterwe. Op die vierde dag skep die Here die son en die maan en die sterre. Die Here doen dit om vir ons as mense tyd aan te toon. Sodat tyd vir ons in kaders geplaas word. Die Here gaan op die vierde dag verder om die aarde vir die mens bewoonbaar te maak. Op die vierde dag stel God die tyd vas.
Tyd is standvastig
Die hemelliggame kry twee besondere opdragte – ‘om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare.’ Hulle moet dus vir die mens aantoon wanneer dit dag en nag is. Ook moet hulle die tye vir die mens vaslê. Die siklusse waarin die son en maan beweeg bevestig vir ons dag en nag, sowel as jare en seisoene. Die Here het dit so geskep. Standvastig is die tyd. Dit verloop kronologies.
Tyd is wisselend
Deur die sonde het tyd vir ons as mense wisselend geword. Die volmaakte skepping het ons deur die sonde verwoes. Aan die begin was alles goed. Daar het nie iets soos slegte tye bestaan nie. Daar was nie dood, hartseer en ongelukkigheid nie. Salomo beskryf in Prediker hoe wisselend die tyd van die mens deur sonde is. Want nou is daar tyd vir vreugde, maar ook tyd vir hartseer. Tyd vir geboorte en tyd vir sterwe. Deur Jesus Christus kom daar herstel. Deur Hom is ons tyd weer in God se hand.
Gesprekspunte
- Wat beteken dit vir jou dat die tyd wat jy het ‘n gawe is wat vanaf God kom?
- Wat is vir jou opvallend van dit wat die Here op die vierde dag geskep het?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com