Markus 14:53-65
“Is jy die Christus, die Seun van die Lofwaardige?” Jesus antwoord: “Ek is!”
VIR OF TEEN JESUS CHRISTUS
Hier waar ons stilstaan waar Jesus voor die Sanhedrin verskyn is die sentrale vraag: Is jy vir Jesus of is jy teen Hom? As ons saam na die Here se stem hier luister dan word jy voor die vraag geplaas. Vir Jesus beteken dat jy vergewing van sondes net by Hom soek, dat jy elke dag in alles wat jy doen Hom navolg. Teen Jesus beteken dat jy Hom afwys, dat jy Hom minag, dat jy Hom uit die pad wil hê, dat jy Hom kruisig. Dit klink nogal radikaal. Dit kan ook milder gestel word: ‘Jesus Christus is vir my belangrik, maar daar is darem nog soveel meer.’ Of jy kan sê: ‘In 80% van my lewe mag Jesus bepalend wees, maar die ander 20% hou ek vir myself.’ So werk dit nie. In Markus 14 sien ons. Jy is of vir Christus, of jy is teen Hom. ‘Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.’ (Mattheus 10:34)
Die aanklag van die raad
Die Sanhedrin was die regbank van die Joodse volk. Die hoëpriester was die voorsitter. Die Sanhedrin het ui 70 lede bestaan. Die priesters, skrifgeleerdes en oudstes was deel hiervan. Toe Jesus voor hulle verskyn loop alles verkeerd. Die hele byeenkoms is volgens hulle eie wette, onwettig. Die raad is sommer aanklaer en regter op dieselfde tyd. Daar is ook nie eers ‘n aanklag nie, dit moet nog gevind word. Hulle soek, maar hulle kry niks nie. Maar dan word die sentrale vraag aan Jesus gestel: “Is jy die Christus, die Seun van die Lofwaardige?”
Jesus se antwoord: Ek is
Jesus verbreek die stilte. Te midde van die bose en gefrustreerde stemme, hoor ons die kragtige, sagmoedige en helder stem van Jesus. Hy sê: Ek is… Dit maak die Sanhedrin woedend. Onthou hoe God Hom aan Moses by die brandende bos bekend gemaak het: ‘Ek is Wie Ek is’ (Eksodus 3:14). Hier bevestig Jesus dit. Ek is. Ek is die ware Wynstok, die Lig vir die wêreld. Ek is die goeie Herder. Ek is die Seun van die mens. Hiermee erken Christus dat Hy die enigste Seun van God is. Die hele Ou Testament profeteer oor Hom (Psalm 2; 110; Daniel 7).
Die raad se oordeel
Die klag word godslastering. Al van Moses af was die straf daarop die dood. Vir geen oomblik dink hulle dat Jesus regtig God is nie. Dit wil hulle nie glo nie. Dit is in elk geval vir hulle te gevaarlik om te glo. Vir hulle gevestigde orde is Jesus ‘n bedreiging. Ons is vir Jesus Christus. Op basis van Hom wat ‘Ek is’ is, kan ons vandag bely – Ek is ‘n kind van die Here.
Gesprekspunte
- Wat leer jy van Jesus se optrede vir jou eie dissipelskap, toe Hy daar voor die raad gestaan het?
- Hoe word jy in hierdie gedeelte deur die Here bemoedig?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com