Skip to content
Menu

Genesis 1:20-25 asook Romeine 8:18-30 Teks: Romeine 8:18-30

‘Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het.’
(NGB Artikel 12)

DIE SKEPPING SUG ONDER DIE SONDE 

Op die vyfde en die sesde dag skep God die lewende wesens. Die diere. Dit is die skepsels wat leef en beweeg. Die diere is besonders. Dit is werklik aangrypend. Die Here het hulle so gemaak. En Hy het ons as mens as heersers oor hulle gestel. Die taak het Hy vir Adam en Eva gegee. Deur hulle sonde is die pragwerk van die Here verwoes. Die wêreld is gebreek. En in hierdie staat leef die wêreld vandag nog. Ons hoor dit in Romeine 8:22 – ‘Ons weet immers dat die ganse skepping tot nou toe saam met ons sug, ja, in geboortepyne verkeer.’ En die sug van die skepping sien ons in besonder raak in die diereryk. In die gewelddadigheid wat onder hulle heers. Die swaar omstandighede waar onder hulle moet leef.

Die skepping van die diereryk

Op die vyfde en die sesde dag skep die Here al die diere. ‘n Magdom lewende wesens wat die aarde vol maak. Wat beweeg oor die aarde. Die rede waarom Hy dit doen is om die aarde verder bewoonbaar te maak vir die mens. Die mens word immers deur die Here aangestel om oor die diere te heers.

Die val van die diereryk

Die diereryk wat die Here gemaak het ly onder die sondeval. Deurdat die mens in sonde geval het, dompel hy die hele wêreld daarin. Alhoewel die skepping en die diere nie die oorsaak van die sonde is nie, dra hulle ten volle die gevolge daarvan. Ons sien dit in die natuur. Dit bring ons tot sondebesef. Die sondes wat ons doen het katastrofiese gevolge.

Die herstel van die diereryk

Die Here laat sy skepping nie tot niet gaan as gevolg van die mens nie. Hy hou sy skepping in stand. Hy beloof herstel. Die skepping sug in barensnood. Dit wag vir die dag wat dit weer herstel sal wees. Dit sal gebeur wanneer Jesus Christus terugkom. Dan sal daar weer vrede en harmonie wees.

Gesprekspunte

  1. Hoe sien jy in die daaglikse lewe dat die skepping sug onder die gevolge van ons dade?
  2. Wat is vir jou opvallend van dit wat die Here op die vyfde en sesde dag geskep het?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com