Markus 14:27-31;66-72
1 Petrus 2:21-25
‘En hy (Petrus) het bitterlik begin huil.’
JESUS CHRISTUS: VERLAAT EN VERLOËN VIR ONS VERGEWING
Petrus het bitterlik gehuil. As jy jou vir ‘n tydjie in die verhaal van Petrus inleef, dan besef jy dit is hartverskeurend hartseer wat hom oorkom. Dit oorkom hom werklik. Dit oorkom ons almal soms – dat jy keuses maak of dinge sê waarvan jy later soveel spyt het. Petrus staan naby ons. ‘Selfs al sal almal struikel, ek sal nie.’ Jy kan so vol selfvertroue wees, dat jy dit regtig glo. Jammer genoeg is dit deel van ons lewe hier op die aarde. In die uur van nood sien ons dat ons Here Jesus Christus deur sy dissipels verraai, verlaat en verloën word. Die pad na die kruis is ‘n pad van eensaamheid.
Verlaat
‘Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal struikel, want daar staan geskryf: ‘Ek sal die herder neervel, en die skape sal uitmekaar gejaag word.’ (vers 27) Dit is die toekomstige reaksie van al sy leerlinge. Met die profesie uit Sagaria 13:7 gee Jesus aan dat sy leerlinge uitmekaar sal val, as Hy wat hulle saambind uit hulle midde weggeneem word. Hiermee maak Hy ook die eensaamheid van die pad van die Herder bekend. Die dissipels se struikel, is deel van die Messias se lyding. Hy wat in eensaamheid die straf vir hulle hardnekkigheid moet dra.
Verloën
‘Wat ek wil, doen ek nie; maar juis wat ek haat, dit doen ek.’ Ek wil myself heeltemal ywer vir Jesus Christus, maar in ‘n oogwink staan ek weer in my eie diens. Ek wil die ander hoër ag as myself, maar dan kyk ek weer op iemand neer. Ek wil vriendelik reageer, maar dan is ek weer vyandig. Ek wil rein lewe, maar so vinnig kry onreinheid die oorhand. Ek wil die naam van die Here Jesus in my lewe bely, maar op beslissende oomblikke skiet ek daarin tekort. In die lydensgeskiedenis staan Jesus sentraal. In die woorde van Petrus ervaar Hy die afwysing van God die Vader. Die verloëning toon aan hoe Christus verlaat is – ‘Ek ken nie hierdie man van wie julle praat nie.’
Vergewe
‘Die Here het omgedraai en stip na Petrus gekyk…(Lukas 22:61).’ Hoe sou Jesus hom aangekyk het? Wat het Petrus in die blik van Jesus gesien? Oordeel? Teleurstelling? Nee. Barmhartigheid! Christus maak die barmhartigheid van God bekend. Sy blik is vol tederheid. Vol van liefde en vergewing. Vol van deernis. Dit is nie sonder rede dat Petrus breek nie. As jy so geval het, so gestruikel het, en dat iemand jou dan so liefdevol aankyk. Petrus het bitterlik gehuil, maar daar is vergewing.
Gesprekspunte
- Wat beteken dit vir jou dat God barmhartig is?
- Hoe word jy bemoedig deur die woorde wat Petrus jare later in 1 Petrus 2:21-25 skryf?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com