Genesis 1:26-31
Psalm 8
‘Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het.’
(NGB Artikel 12)
DIE MENS AS BEELD VAN GOD (6)
In psalm 8 hoor ons die skeppingslied van Dawid. Hy beskryf hoe lieflik die Here dit gedoen het. Hy getuig van sy almag en hy beskryf dit so mooi. Hy noem die skepping die werk van die Here se vingers. Die skepping is dus vingerwerk. Ons weet baie goed wat hande werk is. Dit is rof en grof. Dit is om met ‘n vurk in die tuin te spit, of om met ‘n hamer spykers in te slaan. Maar die Here skep nie so nie, Hy doen dit noukeurig, presies en volmaak, vingerwerk. Hierin hoor ons hoe besonder die mens is. Die kroon van die skepping – ‘wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?’
Die skepping van die mens
Op die sesde dag skep die Here die mens. Hy skep die mens na sy beeld. Dit beteken dat die Here ons as mens anders maak as die res van die skepping. Die mens kan dink, ons het verstand. Ons kan saam met God in ‘n verhouding leef. Tussen God en mens is daar gesprek, daar is wedersydse liefde. Ons is ook aan die begin geskape soos God sonder sonde. Die mens is besonder en uniek.
Die val van die mens
Die Here gee vir die mens die opdrag om saam met Hom te heers oor die skepping. In wese word ons onderkonings hiervan. Ongelukkig kom die mens in opstand teen die Here. Adam en Eva eet van die boom van kennis van goed en kwaad en val daardeur in die sonde. Ons as beeld van God word verpletter. Die beeld word gebreek en die skepping val daarmee saam.
Die herskepping van die mens
In psalm 8 vra Dawid: ‘wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?’ Die Here laat nie die skepping tot niet gaan nie. Dit wat die mens breek, dit herstel Hy. Dit doen Hy deur sy Seun Jesus Christus. Die Here gee soveel om vir die mens wat Hy geskep het dat Hy sy eie Seun na die aarde toe stuur om reg te maak wat ons gebreek het.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com