Psalm 16
‘Daarom is my hart bly en juig my binneste; ja, my liggaam bly veilig.’
DAAROM JUIG MY SIEL!
Dawid noem Psalm 16 ‘n Miktaam. Dit is ‘n Hebreeuse woord wat in sommige vertalings nie vertaal word nie. Die rede is omdat daar onduidelikheid is wat die woord beteken. Meestal word dit gesien as ‘n stil gebed. Dit kan ook ‘n pêrel beteken. Dit sal beteken dat dit een van Dawid se gunsteling Psalms was. Wat die betekenis ook al mag wees, nooi die woord ons in ‘n sekere sfeer: ‘n atmosfeer van stil gebed, van ‘n nederige soeke na ons groot God…en daarom juig my siel.
God my enigste geluk (1-2)
‘U is my Heer; buiten U is daar vir my niks goeds nie.’ Daar is soveel dinge wat tydelike geluk op die aarde kan vorm. Waarin vind jy geluk? Jou siel vind net ware geluk in die Here jou Skepper. Dawid het dit besef. Daarom juig sy siel. Buiten die Here is daar niks goeds nie! Die res is oorbodig.
Ek het die afgode afgesweer (3-4)
Ons as mense is geneig om ons geluk in afgode te soek. Om iets anders op die eerste plek te stel. Daar is soveel aantrekkingskragte in hierdie wêreld wat ons harte aanspreek. Soveel verleidings. So gou word ons gebind deur materialisme, erotiek of mag. Dawid juig, want hy is vry. Sy oë is gerig op die Messias wat kom. Hy is vry in Christus.
My erfenis is vir my mooi (5-6)
‘Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir mooi.’ Die HERE bepaal ons lot. Deur genade is ons vry in Christus. Deur genade besef jy watter erfdeel jy van die HERE ontvang. Dawid besef dit. Daarom juig sy siel. Sy siel is gerig op die heerlikheid van God. Al van voor die grondlegging van die wêreld is die Here besig met sy uitverkore kinders. Ons erfenis is werklik mooi.
Ek hou die HERE altyd voor oë (7-8)
‘Snags spoor my gewete my aan.’ Jou siel het ook met jou gedagtes en jou gewete te make. Geloof is kennis en vertroue. Jou siel voel nie net nie, dit dink ook. So leer ons die Here ken. So word jy gegrond in sy wysheid. Dit is deel van die intieme verhouding tussen die Here en sy kinders. Om jou oë altyd op die HERE te hou, lei tot ‘n lewe van ware geluk. Daarom juig my siel.
By die HERE is ek veilig (9-11)
Dawid het aanvalle en vyandskap geken. So gereeld was die dood naby. Maar juis vanuit die besef dat die dood naby is, kom die nabyheid van die Here soveel nader. Die dood van ‘n kind van die Here is nie ‘n eindpunt nie. Dit is ‘n deurgang na ‘n ewigheid in volmaaktheid. Daarom sal ons juig. Ons mag deel in die oorvloedige vreugde in die teenwoordigheid van die Here.
Gesprekspunte
- Wat beteken die woorde uit vers 6 – ‘ja, my erfenis is vir my mooi.’ vir jou?
- ‘Die hele nag dink ek aan God.’ Gebeur dit soms met jou? Hoe sluit Psalm 16 hierby aan?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com