Skip to content
Menu

Psalm 32

‘Ek wil jou insig gee, ek wil jou die pad leer wat jy moet loop. Ek wil jou raad gee, my oog oor jou hou.’

DIE SEËN VAN SKULDVERGEWING

Psalm 32 is ’n Maskiel van Dawid. Dit is ’n Psalm waarin daar onderwys gegee word. Dawid skryf hier oor sake wat in sy eie lewe gebeur het. Op die harde manier het hy geleer –  Daar is geen skuldvergewing sonder skuldbelydenis nie. Dawid het vreeslike dinge gedoen. Hy was ’n groot sondaar. Hy was ’n moordenaar en ’n egbreker. Hy het ’n getroude vrou, Batseba, vir hom gevat. Hy het haar man Uria laat doodmaak. En wat doen Dawid na hierdie gruweldade? Hy swyg. Hy bedek sy skuld. Maar toe Dawid nie wil praat nie, praat die Here. Die Woord van die Here ruk Dawid tot besinning. Nou ’n tyd later gee hy onderwys hieroor. Hierin beklemtoon hy hoe belangrik hierdie saak is. Jou saak met Here is net reg, as daar skuldbelydenis is.

Skuldbelydenis (1-5)

‘Gelukkig is die een wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Gelukkig is die mens vir wie die HERE skuld nie toereken nie, en in wie se gees geen bedrog is nie.’ Gelukkig is hy wie weet wat vergifnis van sonde is. As gelowige moet ons tot ware skuldbelydenis kom. Gereeld vermy ons dit. Steek jy jou sondes weg. Verontskuldig jy jouself en gee vir iemand anders die skuld. Vinnig lei ons onder die omstandighede. Die Here roep ons tot skulderkenning. Ek is sondig, ek was verkeerd.

Onderrig (8-10)

Om tot by skuldbelydenis te kom gee die Here vir ons onderwys. Die pad wat ons moet volg, maak die Here aan ons bekend. So gereeld word daar verhard teen die onderwys van die Here. Moedswillig word eredienste versuim. Is mense tevrede met die minste. Bybelstudie is oorbodig. Hy wie sy ore sluit vir die Here is soos ’n donkie sonder verstand. Die dwaas volg eiewillig sy eie pad. Het tyd vir baie dinge, maar nie vir die onderrig van die Here nie.

Aanbidding (6,7,11)

Die Psalm sluit af met ’n lofprysing. ‘Verbly julle in die HERE, en juig, regverdiges; ja, jubel dit uit, almal met opregte harte.’ As jy besef hoe groot die genade van Jesus Christus is. ’n Begeerte het om sy onderwys te ontvang en om in sy waarheid gegrond te wees. Hy ervaar groot seën in skuldvergifnis.

Gesprekspunte

  1. Wat is sonde volgens jou ten diepste? Sal jy sonde kan omskryf as selfgerigtheid?
  2. Hoe hou Psalm 32 verband met Jakobus 5:16? – ‘Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.’

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com