Skip to content
Menu

Psalm 106
Lukas 23:39-43

‘Dink aan my, HERE, wanneer U guns bewys aan u volk; sien na my om wanneer U hulle verlos’ (Ps. 106:4)

SAAM AAN DIE KRUIS – SAAM IN DIE PARADYS

Halleluja, Halleluja. So begin en eindig Psalm 106. ‘n Persoon sing hierdie psalm op sy oudag. Aan die einde van die lewe kniel hy voor die Here neer en hy sing. Hy prys die Here vir sy grootheid. Hy erken dat hy afhanklik van die Here is. Dat hy net soos sy voorouers aan die sonde skuldig is. Dat hy redding nodig het. Hy beskryf hoe groot hulle sondes is. Daar is amper nie een sonde wat nie in die sondelys in Psalm 106 genoem word nie. Daarom vra hy in vers 4: ‘Dink aan my, o Here!’ Kragtige woord. Dieselfde woorde het die een man, jare later vir die Here Jesus aan die kruis gevra. Dink aan my. Hierop het ons Here Jesus geantwoord: ‘Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.’

Die identiteit van die misdadiger

Wie was die man wat langs Jesus aan die kruis gehang het? Hy was ‘n krimineel. Hy was die skuim van die samelewing. Hulle het hom uitgewerp. ‘n Man wat se lewe so skeefgeloop het dat hy nou vervloek aan die kruis hang. Ook was hierdie man ‘n Jood. Die Romeine mog nie gekruisig word nie. Hy is dus ‘n kind uit die verbond van Abraham. In vandag se woorde – ‘n gedoopte persoon wat die pad byster geraak het.

Die vraag van die misdadiger

Aan die kruis word Jesus gespot en belaster. Vanuit verskillende hoeke gebeur dit. Die volk en die owerpriester doen dit. Die soldate skroom nie. So ook nie die misdadigers aan die kruis nie. Die een volhard daarmee tot die einde toe. Tot op die einde van sy lewe sal hy teen die Here bly sondig. Die ander misdadiger nie. Hy kom tot inkeer. Daar aan die kruis is die Heilige Gees aan die werk. Die man het berou en dan vra hy vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.

Die antwoord vir die misdadiger

Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. Die man vra oor die toekoms, die Here Jesus gee antwoord in die hede. Vandag nog sal dit so wees. Dit is ons houvas vandag. Deur die geloof weet ons dat as ons in hierdie lewe sterf ons verder saam met die Here in die Paradys leef.

Gesprekspunte

  1. Wat beteken dit vir jou om saam met Jesus aan die kruis te wees? Hoe bepaal dit jou stryd teen die sonde hier op die aarde?
  2. Watter bemoediging ontvang jy van die Here uit hierdie gedeelte?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com