Lukas 22:14-20; Openbaring 19:1-10
‘Toe sê die engel vir my: “Skryf dit neer: ‘Gelukkig is hulle wat uitgenooi is na die bruilofsfees van die Lam.’
AAN DIE TAFEL VAN DIE HERE
Wat bind ons as gelowiges saam? Wat maak ons die gemeenskap van gelowiges? Die antwoord is duidelik. Jesus Christus bring ons bymekaar. Deur die Heilige Gees werk Hy geloof in ons harte en deur die geloof ken ons mekaar. Die Here vergader ons as sy kerk. Nou hoor ons in Openbaring dat Hy ons, sy kerk, sy bruid noem. Dat ons reg moet wees vir die bruilofsmaal wat kom. Toe Jesus op die aarde was, het Hy voorbereiding hiervoor gedoen. Dit het ons in Lukas gelees. In die gedeelte word drie maaltye vermeld. Die Paasmaal, die Nagmaal en die Bruilofsmaal. By al drie die geleenthede word daar gesing – Halleluja.
Die Halleluja uit die verlede (Paasmaal)
Halleluja is ‘n Hebreeuse woord. Dit beteken loof die Here. In Openbaring 19 hoor ons die hallelujas weerklink. In die Ou Testament het hulle al hierin gedeel. Het hulle hiervan geprofeteer. Want ook by Israel se Paasfees was die Halleluja-psalms 113-118 ‘n vaste onderdeel van die Paasliturgie. Toe ons Here Jesus die laaste Paasmaal gevier het, het hulle hierdie lofsange gesing.
Die Halleluja in die hede (Nagmaal)
Vandag leef ons hier op die aarde. Loof en prys ons die Here hier. Hier in ons erediens aan Hom. Die Here gee vir ons soveel rede om Hom te loof. Om Hom te prys en te aanbid. Om Hom met alles wat ons is en het te aanbid. Dit word elke keer weet met die nagmaal vir ons bevestig. As ons hier op die aarde aan die Nagmaalstafel sit, dan is dit die naaste wat ons aan ons Christus in hierdie sondige wêreld kan kom.
Die Halleluja van die toekoms (Bruilofsmaal)
Salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. Die dag sal aanbreek waarop alle gelowiges so lank gewag het. Die profesieë sal almal vervul word. Dan sal Christus die Bruidegom na vore tree. En ons sal aansit aan die bruilofsmaal van die Lam. Ons Hallelujas sal weerklink. Die Here sal tot in ewigheid geprys word.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com