Skip to content
Menu

Hosea 2

‘Op daardie dag, is die uitspraak van die Here, sal jy My noem, ‘my Man’. Jy sal My nie weer ‘my Baäl’ noem nie.’

Die Hemelse Vader voorsien in alles, vergeet geeneen van sy weldade nie

Aan die begin van Hosea 2 verskyn ’n man as getuie teen sy vrou. Die taalgebruik klink soos dié wat in die hof gebruik word. Dit is regsterme. Die hoofpersone in Hosea 2 is ’n man en sy vrou, hulle kinders, en die minnaars van die vrou. Die man stel die Here voor. Die vrou verteenwoordig die volk van Israel. Die kinders is individue in Israel wat telkens aan die woord kom. Die minnaars van die vrou is die Baäls en die ander gode van die land Kanaän. Die Here kla die verbondsvolk aan.

In die eerste gedeelte van hoofstuk 2 het ons die klag van die Here teenoor sy volk gehoor. Die Here getuig van al die goeie dinge wat Hy vir Israel gedoen het. Hy kla hulle aan oor hoe hulle gemors het met al die weldade wat Hy vir hulle gegee het. Hy kla hulle aan dat hulle Hom, die Gewer, nie in alles raaksien nie. In die tweede gedeelte van hoofstuk 2 kondig die Here aan hoe dit weer in die toekoms sal wees. In dié gedeelte word die toekomstige heil beskryf. In die Woordverkondiging word die fokus geplaas op vers 15 as die oorgang van oordeel na heil. Die vers het ons nou net saam gelees: ‘En in die dag spreek die Here, sal jy My noem: My man; en jy sal my nie meer noem: My Baäl nie.’

Die Vader belowe dat Hy in alles voorsien

Deur Hosea profeteer God aan Israel in ’n tyd wat dit met Israel goed gegaan het. Die volk Israel het gefloreer. Ekonomies het dit met die land goed gegaan: God het aan Israel koring, mos en olie gegee. Vrugbare wingerde en vyebome wat vrug gedra het. Die Here het die volk Israel ryklik geseën, maar die volk het die hand van die Here nie hierin gesien nie. Buiten al die liggaamlike en fisiese dinge voorsien God die volk ook van die belofte van die Messias. Vir ons is dit Jesus Christus deur wie ons in ’n liefdevolle verhouding met God kan leef.

Die Vader eis dat ons geeneen van sy weldade sal vergeet nie

Die volk Israel mors met die liefde wat hulle van God ontvang het. Die Here se antwoord op die ontrou van Israel word omvat in drie ‘daaroms’.

  • Omdat hulle Hom vergeet het sal Hy hulle straf.
  • Hy sal die rykdom van die land wegneem.
  • Hy sal sorg dat hulle in ballingskap weggeneem word.

Ons hoor die oproep en die waarskuwing van die Here: Vergeet My nie! Ons is die bruid van Jesus Christus. Deur Hom kan ons sê: ‘My Man’.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com