Skip to content
Menu

Hosea 4:1-12

‘My volk kom om weens ‘n gebrek aan kennis. Omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy nie meer vir My priesterdiens doen nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou seuns vergeet.’

God se regsaak met sy verbondsvolk

Die profeet Hosea bring ‘n aangrypende boodskap vir die volk Israel. Hy bring ‘n profesie vol met waarskuwing. ‘n Skrikwekkende boodskap. Hierdie profesie rig hy aan die verbondsvolk Israel. Israel die volk wat God uit die slawehuis van Egipte uitgelei het. Aan wie Hy die beloofde land Kanaän gegee het om in te woon. Die volk wat God bo die ander volke uitgekies het. Die volk waaruit ons Messias gebore sal word. Hierdie volk het hulle rug op God gekeer. Hieroor moet hulle verantwoording doen. Deur Hosea roep God tot Israel – “Hoor die woord van die Here, o kinders van Israel! Want die Here het ‘n regsaak met die inwoners van die land.

God se aanklag teen sy verbondsvolk

Hosea 4 loop oor van aanklagtes. Baie dinge loop verkeerd in Israel. In vers 6 word die kern van die aanklag genoem: My volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis. Vanuit die geskiedenis van Israel sien ons hoe die suiwer Godskennis vaag geraak het deur die politiek en vermengde godsdiens. In die land is daar geen kennis meer van God nie. Dit ontbreek. Dit is ernstig. Skokkend! Hoe gebeur dit dat die volk van God hulle God nie ken nie? Spreuke 1:7 sê: ‘Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis.’

God se uitspraak oor sy verbondsvolk

Die God wat aankla is ook die God wat die uitspraak lewer. Die uitspraak wat ‘n regter gee is of skuldig of onskuldig. God se uitspraak teen Israel is duidelik: omdat jy die kennis verwerp het, sal ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie. Israel is skuldig.

God se vonnis oor sy verbondsvolk

Na skuld bevinding word daar ‘n vonnis gevel. Omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet. Die vonnis is dat God klaar is met Israel. Hy gaan van hulle vergeet. ‘n Deel van God se verbondsvolk gaan die hemelpoorte nie in nie.

Gesprekspunte

  1. Hoe kan jy die profesie uit Hosea 4 in jou daaglikse lewe toepas?
  2. Hoe sal jy die ware Godskennis omskryf?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com