Maak seker dat die inligting wat jy stoor, “verwerk” is – in geloof verwerk is.
As jy “onverwerkte” inligting stoor, sal jy altyd soos ʼn slaaf dink, besin, besluit en optree.
Ons erken dat dit in hierdie lewe belangrik is om ervaring te hê. Ervaring help byvoorbeeld dat ʼn mens in moeilike situasies weet hoe om op te tree. Aan die ander kant moet ʼn mens erken dat ervarings in mense se lewens soms juis lei tot onwyse optrede. Ervarings van verwerping in iemand se kinderlewe lei byvoorbeeld dikwels tot probleme in die volwasse lewe. Dink ook maar aan die ervarings wat ons in 2020 beleef het. Watter invloed sal dit nie op ons lewe hê nie? In die gelese gedeelte hoor ons van Israel se optrede. Die volk het pas God se wonderdade ervaar toe Hy hulle uit Egipte gelei en deur die Rietsee tot veiligheid gebring het. Dit is uit hulle optrede duidelik dat hierdie wonderdade van God weinig indruk op hulle gemaak het toe hulle begin dink het dat hulle van die honger gaan omkom. Hulle is maar weer soos hulle was toe hulle in Egipte was. Soos slawe hou hulle nie rekening met God nie, verwyt en gryp hulle na oplossings wat geen oplossings is nie. In die krisis word ʼn groot deel van hulle ervaring van die verlede nie in berekening gebring nie. Net die krisis dat hulle nie genoeg kos het nie, staan op die voorgrond. As jy “onverwerkte” inligting stoor, sal jy altyd soos ʼn slaaf dink, besin, besluit en optree.
Stoor in-geloof-verwerkte inligting in jou geheue.
Wanneer die Here aan hulle kos gee, word Israel op ʼn besondere manier verplig om die aaklige ervaring: om nie genoeg kos te hê nie, te verwerk. ʼn Kruik met twee liter van die manna wat God op ʼn wonderbare manier voorsien het, moet veilig bewaar word. Israel mag nie slegs die honger, die vrees en magteloosheid wat daarmee gepaard gaan, onthou nie. Daar het immers baie meer dinge as die honger en wat daarmee gepaard gaan, gebeur. Gelowiges moet die gebeure in hulle lewe in geloof verwerk. Die inligting wat ek stoor, moet in-geloof-verwerkte inligting wees.
In-geloof-verwerkte inligting bevat die volgende elemente:
- Begrip van en insig in die versekering: “Ek is die Here julle God” (vgl. 16:11);
- Sekerheid oor die Here se vermoë (vgl. 16:7a) en sy versorging uit die hemel (vgl. 16:4a);
- Insig dat slawedenke verset teen die Here Self is (vgl. 16:7, 8, 9);
- Denke, besinning, besluitneming en optrede wat gekenmerk is deur vertroue in die Here en gehoorsaamheid aan Hom.