Skip to content
Menu

Johannes 3:1-21
HK Sondag 7

‘…sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê… Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hy nie in die Naam van die unieke Seun van God geglo het nie.’

DEUR DIE GELOOF INGELYF IN CHRISTUS

Wie ontvang die geloof?

In 1 Johannes 2:2 staan daar – ‘En Hy (Jesus Christus) is die versoening vir ons sondes – nie net vir óns sondes nie; maar ook vir dié van die hele wêreld.’ Hoe werk dit nou? Deel almal dan in die verlossing van Jesus Christus? Dit word genoem die alversoening. Hierop is die antwoord nee. Slegs hulle wat deur ‘n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem, net hulle deel in die verlossing van Christus. Wie ontvang die geloof? Die uitverkore kinders van die Here. In Mattheus 22:14 staan daar – ‘Baie is immers geroep, maar min is uitgekies.’

Wat is ‘n ware geloof?

‘n Ware geloof bestaan uit twee aktiwiteite. Dit is ‘n gewisse kennis en vaste vertroue. By kennis dink ons aan ons verstand. Dit is iets wat jy weet. Daardeur weet ons dat God se Woord betroubaar is. Maar dit is nie die enigste nie. Hieraan word vertroue bygevoeg. Geloof is ook ‘n vaste vertroue daarop dat jy gered is. ‘n Ware geloof word aan hierdie persoonlike vertroue in my hart geken. Hierdie kennis en vertroue kan ons nie van mekaar skei nie. Die Here werk geloof in ons harte deur die werking van die Heilige Gees en die Woord. So leer ons Hom ken en vertrou.

Wat is die inhoud van die geloof?

Wat moet ons alles glo? Alles wat God in sy Woord aan ons openbaar het. Hierin word een woord beklemtoon. Dit is die woord beloof. ‘n Christen moet alles glo wat in die evangelie belowe word. God kom nie net na ons toe met ‘n versameling waarhede en feite nie, maar met sy beloftes. Beloftes van redding en beskerming wat Hy persoonlik aan jou rig. As jy dit verstaan het jy die sleutel in die hand om die volle krag van die evangelie in jou te laat werk.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com