Skip to content
Menu

1 Johannes 2:3-11
Johannes 13:31-35

“Ek gee julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.”

Die nuwe gebod van Jesus Christus –
om te weet hoe om saam met God te leef

Hoe weet jy of jy God regtig ken? Dit is nogal ‘n direkte vraag. Hierby bring die Woord ons vanoggend. ‘As ons sê dat ons God ken.’ Ken jy God? ‘n Vraag wat jou help om na jouself te kyk en om te sien hoe sterk jou verhouding met God is. Dit word nou konkreet gemaak in die nuwe gebod van Jesus Christus. ‘Ek gee julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê.’ As julle sê dat julle God ken, dan moet dit so wees. En dit behels dan: As jy jou naaste vloek, skel, belaster, haat, minag, op neerkyk of mishandel, ken jy nie God nie.  Is jy lief vir jou naaste? Die woorde van die nuwe gebod in ‘n neutedop – Ons het God nie lief, as ons nie ons naaste liefhet nie.

‘n Gebod van gehoorsaamheid (3-6)

In vergelyking met die vorige gedeelte, verskuif die aandag. Daar was die fokus op die begrippe sonde en vergewing, nou is dit op gebooie en gehoorsaamheid. Weereens hoor ons drie bewerings van die teenstanders van die kerk. ‘Iemand wat sê, “Ek ken Hom,” maar sy gebooie nie onderhou nie, is ‘n leuenaar en die waarheid is nie in hom nie.’ (vers 4) ‘Wie sê dat hy in Hom bly, behoort self ook te leef soos Hy geleef het.’ (vers 6) ‘Iemand wat sê dat hy in die lig is, maar sy broer haat, is steeds in die duisternis.’ (vers 9) Die nuwe gebod van Christus is ‘n gebod van gehoorsaamheid – ‘wie sy woorde gehoorsaam – in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword, en hieruit weet ons dat ons in Hom is.’

‘n Gebod van liefde (7-11)

Die nuwe gebod waaroor dit gaan, is die gebod van die liefde. Hierdie woord sal in die vervolg van die brief nog baie terugkeer. Johannes preek hier oor die liefdesgebod, soos wat Hy by die Here Jesus geleer het. Dit lyk amper of 1 Johannes 2:3-11 ‘n preek is met die teksgedeelte uit Johannes 13:34-35. Hierin maak die Here nou vir ons bekend, hoe ‘n lewe in die lig prakties lyk. Deurlopend sien ons die teenstelling tussen die lig en duisternis. Tussen hulle wat liefhet en hulle wat haat. Die liefde wat ons van God ontvang is ‘n besondere liefde. Daarin proe en ervaar ons hoe God dit in die begin bestem het en ook hoe dit eendag in volmaaktheid sal wees. Die liefde vergaan immers nimmermeer.

Gesprekspunte

  1. Wat beteken dit om God te ken? Wat hou dit vir jou persoonlik in?
  2. Hoe word ‘n lewe in die liefde van Christus konkreet in jou lewe?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com