Skip to content
Menu

Galasiërs 4:1-11, HK Sondag 8

’En noudat julle God leer ken het – of liewer, noudat julle deur God geken is – hoe is dit moontlik dat julle weer terugdraai na die swak en minderwaardige elementêre beginsels, en weer van voor af daaraan verslaaf wil raak?’

Vader, Seun en Heilige Gees: Wie is God?

Wat moet jy as ‘n christen glo? Direk begin ons belydenis met die Drie-enige God. Jy sal selfs kan sê – Die naam van die Drie-enige God (Vader, Seun en Heilige Gees) bepaal ons geloof. In die geloofsbelydenis van Atanasius bely ons selfs: ‘Wie dus salig wil word, moet so oor die Drie-eenheid dink.’ Die christelike geloof is die geloof in die Drie-enige God. Hierdie lewende God maak Homself aan ons bekend. Hy verbind sy Naam aan ons. Dit kan ons met ons verstand nie omvat nie. So groot is God se liefde vir ons. Maar as sy kerk gebruik ons ons verstand om iets van die misterie van God te omvat. Daarvoor luister ons na God se eie Woord. Ons maak dit ons eie en ons bely wat ons glo.

So maak Hy Homself bekend

‘En noudat julle God leer ken het…’ In die Heidelbergse Kategismus word die vraag gestel – ‘waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees terwyl daar eintlik net een God is?’ Die antwoord daarop is so eenvoudig. Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het. In die Bybel maak die Here Hom regdeur bekend as die Drie-enige God. Jy hoor dit by die doop. Jy hoor dit in die seëngroet. Elke keer lees ons van die Vader, Seun en Heilige Gees – soos in Galasiërs 4.

In Hom ken ons onsself

‘…of liewer, noudat julle deur God geken is…’ Daar is ‘n verskil tussen of ek God ken, of dat Hy my ken. Eintlik is die tweede belangriker as die eerste. As die Here jou nie ken nie, sal jy Hom nooit kan ken nie. Ken die HERE my? Word ek deur God geken? Dink Hy aan my? Ontvang ek sy liefde? Staan my naam in sy boek? Is sy oë altyd op my gerig? Paulus sê dit is die fondament waarop ons kinders van God is. Want jy kan God slegs ken, as jy deur Hom geken word. So bewerk God dit. Jy word geken deur die Vader, Seun en Heilige Gees.

So sal ons Hom erken
Jy kan God net ken as Hy Hom openbaar en as Hy jou ken. Van hieruit word jy geroep om God te erken. Hierin het jy ‘n groot verantwoordelikheid. Die kennis van God is ‘n lewende kennis. Dit is kennis wat tot aanbidding en toewyding lei. Om God te erken het gevolge in jou lewe.

Gesprekspunte

  1. Wat beteken dit vir jou om die Drie-enige God te ken?
  2. Wat behels dit vir jou om deur God geken te wees?
  3. Hoe erken jy God in jou lewe?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com