Skip to content
Menu

Koning se verhoor skitter die heerlike evangelie deur menslike valshede heen.

Lees Johannes 1: 29-34 en 19:1-16                 Teks: 19:14

Menslike valshede wat dreig om die evangelie te versmoor.

In die verhoor van Jesus Christus deur Pilatus is dit mense se valsheid wat ‘n mens tref. Uit verse 12-14 van ons gelese gedeelte lig ons vier sulke valshede uit.
a. Selfs in die Paastyd: In vers 14 lees ons dat die verhoor tydens die voorbereiding vir die Paasfees plaasgevind het. Die paaslammers vir die Paasfees is reeds geslag en geëet, maar die Paasfees het sewe dae geduur en baie offers moes nog gebring word. Deelname aan hierdie uiters belangrike aktiwiteite is egter eers deur die Joodse leiers nagelaat. Hulle wou ‘n ander dringende saak afhandel. Met ‘n beroep op “ons wet” (19:7) wou hierdie leiers (vir wie hulle reinheid uiters belangrik was – 18:28) ten alle koste sorg dat Jesus deur Pilatus skuldig bevind en gekruisig word.

b. Vat weg: Alhoewel Pilatus uitdruklik sê dat hy geen skuld in Jesus vind nie, skree die Jode: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!” (19:15).

c. Spotkoning: Pilatus sê vir die Jode: “Hier is julle koning!” Hy glo nie regtig wat hy sê nie, maar sê dit net om die Jode bespotlik te maak. Hierdie bebloede en hulpelose mens is hulle koning!

d. Vriend van die keiser: Die Joodse volk was waarskynlik van die mees opstandige onderdane in die Romeinse ryk. Juis hulle dreig Pilatus op ‘n bedekte manier dat hulle sal bekend maak dat hy nie ‘n “vriend van die keiser” is nie as hy sou weier om Jesus te laat kruisig.

God laat sy evangelie deur die valshede heen skyn.

Juis in die Paasfees: In hulle angstigheid om Jesus te laat doodmaak, veroorsaak die Jode dat Jesus op die Vrydag, dit is die voorbereidings dag vir die Sabbat (Saterdag) verhoor, oorgelewer en gekruisig word. Hierdie dag van voorbereiding was ook om ‘n ander rede belangrik. Dit was ‘n voorbereidingsdag vir die Sabbat binne die Paasfeestyd. Juis in die tyd toe die volk God se magtige verlossing uit Egipte herdenk, en die lammers wat hulle geslag het, hulle daaraan herinner dat God in sy genade sy oordeel by Israel laat verby gegaan het – juis toe word Jesus oorgegee om gekruisig te word. Juis toe word God se Lam uitgelewer om geslag te word.

Dra weg: En as die Jode skree: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!” gebruik die Jode dieselfde woord “wegneem” wat Johannes die Doper gebruik het toe hy van Jesus gesê het: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” Jesus word in ooreenstemming met die Jode se eis weggeneem en gekruisig. Daar gebeur egter terselfdertyd iets anders. Die Lam van God is ook besig om die sonde weg te neem en bewerk dit juis deur sy kruisiging.

Inderdaad Koning: Pilatus spot met die Jode oor hulle koning en neem so wraak omdat hulle hom gedwing het om Jesus oor te lewer om gekruisig te word terwyl hy Jesus wou vrylaat. Uit die mond van ‘n heiden laat God die heerlikste waarheid kom. Hierdie Een wat so bespotlik lyk, is inderdaad die Koning wat God deur die eeue heen aan Israel beloof het. God se koninklike verlossing van Israel uit Egipte is maar ‘n floue afbeelding van die verlossing wat God deur hierdie Koning wat gekruisig sal word, gaan bewerk.

Of die keiser, of God se Koning: Om hulle dreigement deur te voer dat hulle bekend sal maak dat Pilatus nie ‘n vriend van die keiser is nie, gaan die priesterhoofde so ver om te sê: “Ons het nie ‘n koning nie; ons het net die keiser.” Juis in die Paastyd wanneer Jode God se koningskap by herhaling bely het, erken die Jode die keiser as hulle enigste koning! Hoe verskriklik ook al, hulle erkenning is waar. Wie God se Koning verwerp, het inderdaad geen band met die Koning wat Israel uit Egipte verlos het nie. Die Blye Boodskap wat deur die menslike valshede heen skyn, is alleen vir hulle wat die Lam van God wat by Golgota geoffer is, as hulle Koning en Verlosser aanvaar.