Johannes 10:1-21
Psalm 23
’Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.’
JESUS CHRISTUS ONS OPPERHERDER
Jesus vertel vir die mense wie Hy is en wat Hy hier op die aarde kom doen. Net soos baie van die ander gelykenisse, het die mense nie verstaan wat Jesus bedoel nie. Vers 6 sê dit – ‘maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy tot hulle gespreek het nie.’ Maar dan verduidelik Jesus dit vir hulle. Baie duidelik vertel Hy vir hulle, dat Hy gekom het om hulle te red. Hy sê – ‘Ek is die deur, as iemand deur My ingaan, sal hy gered word.’ en ook – ‘Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.’ Klinkklaar duidelik vertel Christus hier vir die mense wat Hy op die aarde kom doen. Die werke van Jesus Christus is vir ons bekend. Vanoggend het ons dit tydens die nagmaal herdenk.
Die persoon van die Goeie Herder
In die Bybel kry ons op baie plekke die term herder. Israel is vanouds die herdersvolk gewees. Psalm 80:2 sing dit – ‘o Herder Israel, hoor tog; U wat Josef soos skape lei.’ In die Johannes evangelie neem Jesus hierdie beeld van die herder oor. Die herderskap gaan van die Vader na die Seun. Die langbeloofde Messias kom om die skape van die Here te red.
Die taak van die Goeie Herder
Wat doen Christus nou as Herder vir ons? Daaroor sing koning Dawid in Psalm 23. Hy het goed verstaan wat die taak van ’n herder is. So sien hy ook hoe die Here vir ons sorg. Die Goeie Herder pas ons, sy skape op. Hy hou ons bymekaar, en beskerm ons teen die kwaad. Sy sorg en sy liefde vir ons is so groot dat Hy selfs sy lewe vir ons aflê.
| ‘En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.’ (1 Petrus 5:4) |
Die kudde van die Goeie Herder
Die Here is die herder, ons is deel van sy kudde. Hieraan behoort al die uitverkore kinders van die Here. Almal wie deur Jesus Christus gered is. Dit is ’n groot voorreg om hierin te mag deel. Om te mag behoort aan die kerk van Christus. Ons as sy kudde lê Hy neer in die veld van milde groen, met sagte hand lei Hy ons na stille waters.