Skip to content
Menu

1 Johannes 3 – HK Sondag 13

’Hieraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die Duiwel is: Wie nie doen wat reg is nie, is nie uit God nie.’

KINDERS VAN DIE HERE

Wanneer is jy ‘n kind van die Here? Hoe weet jy dit? Heelwat tekste in die Bybel spreek hierdie onderwerp aan. Johannes begin sy evangelie daarmee – ‘Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.’ (Joh. 1:12,13) Paulus skryf hieroor aan die gemeente in Romeine  – ‘Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.’ (Rom. 8:14) Wie is kinders van die Here? Hoe het jy kind van die Here geword? Hoe is jy vandag kind van God?

God ons Vader

God die Vader het ons as sy kinders geskape. In die begin was dit so. In die paradys was alle mense kinders van die Vader. Na die sondeval is dit nie meer so nie. Vanaf toe is daar twee soorte mense. Hulle wat God as Vader erken en hulle wat Hom nie as Vader erken nie. In vers 10 maak Johannes ‘n duidelike onderskeid tussen die kinders van die Here en die kinders van die duiwel – ‘Hieraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die Duiwel is: Wie nie doen wat reg is nie, is nie uit God nie.’

Jesus Christus sy Eniggebore Seun

God die Vader stuur sy Seun Jesus Christus na die wêreld toe om ons te red. Jesus Christus neem die gestalte van ‘n mens aan. Hy is die eniggebore Seun van God omdat net Hy God en mens terselfdertyd is. Deurdat Jesus mens word en ons red, kan ons ook kinders van God wees. Deur hom word ons by die volk van God ingelyf.

Ons sy aangenome kinders

Wanneer is jy ‘n kind van die Here? Hoe weet jy dat jy ‘n kind van die Here is? Dit word deur die geloof bevestig. Jy weet dit, jy glo dit, jy bely dit, jy leef dit uit. Johannes sê dit – Geliefdes, nou is ons kinders van God. Dit staan vas. Ons word nie kinders van God nie, ons gaan dit nie eendag wees nie, ons is dit. As die Here geloof in jou hart bewerk kan jy met volle sekerheid getuig – ek is ‘n kind van die Here.

Gesprekspunte

  1. Wat beteken dit vir jou om ‘n kind van die Here te wees?
  2. Hoe het dit gebeur dat jy as kind van God aangeneem is? Hoe ervaar jy dit persoonlik?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com