Johannes 11:17-44 & Johannes 12:1-11
‘Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit?’
JESUS CHRISTUS DIE OPSTANDING EN DIE LEWE
Lewe en dood is ’n tema wat elkeen van ons raak. Vroeër of later in die lewe raak dit jou. Die vrae wat daarmee saamkom, is vrae waarmee ons dikwels worstel. Vrae waarop die antwoord nie altyd so duidelik is nie. Veral as die dood op jong leeftyd kom. Sodra die dood aanwesig is, dan besef ons ook weer dat dood nie pas by lewe nie. Dit staan teenoor mekaar. Die dood is die vyand van die lewe. Ook jou eie naam kan jy aan jou dood verbind. Eendag (as ons Here Jesus Christus nie voor die tyd terugkom nie) sal jy doodgaan. Wanneer, dit weet jy nie. Maar die oomblik kom. Jy kan bang wees daarvoor, omdat die dood ’n grens is. Miskien kyk jy nou al die dood in die oë. Het jy ‘n siekte wat jou gesonde liggaam vernietig. Hierdie vrae konfronteer elke persoon op aarde. Daarom gaan soek ons na antwoorde. Antwoorde op vrae wat al gevra is, en weer gevra sal word. Ons antwoorde vind ons in die Woord van die Here. Ons vind dit by ons Verlosser, Jesus Christus. Hy wat opgestaan het uit die dood. Hy troos ons met sy woorde. Hy troos ons met sy dade.
Ons geloof in die opstanding
Martha se geloof in Jesus Christus is duidelik. Sy glo dat Hy mense gesond maak. Dit is vir haar jammer dat Jesus nie daar was om Lasarus te genees nie. Sy dink nie daaraan dat Jesus hom uit die dood kan opwek nie. Jesus belowe haar dat Hy dit gaan doen. Deur die geloof verstaan Martha. Sy bely kragtig haar geloof. Jesus is die opstanding. Hy is die lewe in sy persoon. Dit is moeilik om presies die krag van die woord te beskryf. Dit beteken hier veel meer as dat Christus opgestaan het, en dat Hy lewe. Hy is dit. Opstanding en lewe het hulle grond in Hom. Hy is die fondament waarop dit staan. Romeine 6:8,9 – ‘As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie.’
Ons lewe deur die opstanding
Geloof en werk loop altyd hand aan hand. ’n Geloof sonder werke is dood. ’n Ware geloof leef. In ’n wêreld waar die dood aanwesig is, is dit vir ons belangrik vandag. Jesus Christus het die dood oorwin, daarom leef ons. Met Hom voor oë dien ons die Here met al die krag wat Hy vir ons gee.
Gesprekspunte
- Wat beteken dit vir jou dat Jesus Christus die opstanding en die lewe is?
- Hoe ervaar jy dit om vanuit Christus se opstanding te lewe?
- Hoe hanteer jy omstandighede waar jy met die dood gekonfronteer word?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com