Psalm 96
HK Sondag 36
‘Sing vir die Here ‘n nuwe lied, sing vir die Here, o ganse aarde… Gee eer aan die Here vir die heerlikheid van sy Naam!’
GEE EER AAN DIE HERE VIR DIE HEERLIKHEID VAN SY NAAM!
Psalm 96 is die groot sendingpsalm. Dit begin met die woorde – Sing tot eer van die Here ’n nuwe lied. Hierdie lied is nuut, want die heidennasies het dit nog nooit gehoor nie. Die Naam van die Here moet aan almal vertel word. Vers 3 en 5 sê dit – ‘Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders…Want al die gode van die volke is afgode, maar die Here het die hemele gemaak. Daar waar daar na die HERE verwys word in die Psalm, wys dit na die Naam van die Here. Dit word elke keer met vier hoofletters gespel. Dit gaan hier oor Jahwe die Verbondsgod. In die eerste gedeelte van vers 8 word daar gesing – Gee aan die HERE die eer van sy Naam.
Die inhoud van sy Naam
In die derde gebod hoor ons elke Sondag dat ons die Naam van die Here nie mag misbruik nie. Maar wat is die Naam van die Here? Die Here het nie ‘n eienaam soos ons nie. In die Bybel kom ons meerdere name van God teen. Op verskillende plekke word Hy verskillend aangespreek. Uit die Bybel word dit vir ons baie duidelik dat sy Naam heilig is en dat ons met eerbied en respek daarmee moet omgaan.
Die verkeerde gebruik van sy Naam
Die derde gebod sê dat ons die Naam van die Here God nie ydellik mag gebruik nie. Die woord ydel beteken iets is leeg, hol, sonder inhoud, sonder krag en hart. Om die Here se Naam ydellik te gebruik, maak jy Hom minder as wat Hy is. Wat beteken dit nou presies om God se Naam te laster en te misbruik? In die Kategismus bely ons dat jy dit doen deur te vloek, deur ’n valse eed af te lê of om deur onnodig te sweer. In die praktyk verklaar jy God as inhoudloos met sulke woorde. Jy doen God oneer aan. Jy ontheilig sy Naam. Oortreding van die derde gebod gaan oor opsetlike kwetsing van God se Naam, sy kerk of op enige ander moontlike manier. Dit is ontheiliging en ontkragting van die almag van God.
Die regte gebruik van sy Naam
Hoe lewe ons nou tot eer van Sy Naam? Hoe gebruik ons die Here se Naam reg? Vol van die Heilige Gees kan ‘n mens nie stilbly oor die Here en wat Hy alles doen nie. Ons opdrag en taak is om te lewe tot eer van sy Naam. Om te bely wie Hy is en wat Hy doen.
Gesprekspunte
- Geer eer aan die HERE vir die heerlikheid van sy Naam – Hoe kry dit vorm in jou daaglikse geloofslewe?
- Hoe hanteer jy ‘n situasie waar iemand openlik die Naam van die Here misbruik?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com
Liturgie
Ps. 97:1,7
Ps. 98:1,3
Ps. 96:1,5,8
Ps. 99:1,2,3,4,5