Maleagi 1:6-14
2 Korinthiërs 9
ONS OFFERDIENS VOOR DIE HERE
Die Here praat hard met sy volk. In die tweede dialoog spreek Hy hulle aan oor hulle offers. Oor die middele waarvan hulle leef op die aarde. Daarin dien hulle die Here verkeerd. Vandag is dit vir ons ’n belangrike punt. Vir die kerk deur die eeue heen. So vinnig word die fokus verkeerd geplaas. Die liefde van die Here is daar. Dit het Hy in die eerste dialoog bekend gemaak. Daar is nie ’n probleem nie. Die probleem lê by die volk. Want by hulle is die antwoord op die liefde nie sigbaar nie. Dit sien ons in die tweede dialoog. ‘As Ek dan ’n Vader is, waar is My eer? As Ek ’n Heer is, waar is die respek vir My?’ Hoekom is dit nie sigbaar nie? Waar is julle kinderlike eerbied? Waarom is julle so ondankbaar? Wat gaan aan met julle eredienste? Hierop gee die Israeliete weer antwoord. Hulle erken nie hulle is verkeerd nie. Hulle is nogsteeds opstandig. Waardeur het ons U Naam verag? Wat doen ons verkeerd? Dan gee die Here vir hulle antwoord.
God verag hartelose godsdiens
Om iets te verag, beteken dat jy dit verstoot. Dat jy groot weersin in iets het. Dit beteken jy hou glad nie van iets of iemand nie. God verag hartelose godsdiens. Dit is teenwoordig in Israel. Die volk Israel doen God oneer aan in hulle eredienste. Deur hulle harteloosheid word God van sy eer beroof. Dit is die duidelikste in hulle skandalige offers. Hulle bring verontreinigde spys – brood wat gemuf is. Hulle bring blinde, kreupel en siek diere na die Here se altaar toe. Lynreg teen die gebooie van die Here. Dit sou beter wees as die deure van die tempel gesluit was – ‘Was daar maar iemand onder julle wat die tempeldeure kon toesluit, sodat julle nie die vuur op my altaar verniet aan die brand steek nie. Ek is julle nie goedgesind nie…’
God het ’n blymoedige gewer lief
Die profeet Maleagi se woorde weerklink vandag. Hy spreek ons offervaardigheid aan. Daarin moet ons altyd die doel voor oë hou. Ons offer is dankoffers. Ons is dankbaar vir die Here vir alles wat ons van Hom ontvang. Hy het selfs sy Seun Jesus Christus vir ons gegee. Ons kan nie harteloos ons slegste vir Hom gee nie. Hartlik leef ons, ons priesterdiens voor God uit. Die Here het ’n blymoedige gewer lief.