Skip to content
Menu

‘Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.’

RENTMEESTERS IN DIENS VAN DIE HERE

Die agste gebod raak direk die materiële kant van die lewe. Dit raak alles wat gaan oor geld verdien en geld bestee. ’n Hele reeks van onderwerpe sluit hierby aan: Gewone diefstal, belasting ontduiking, armoede bestryding, die strewe na welvaart, korrupsie, die ekonomie, die besit van eiendomme, die spaar van geld. Sake wat ons almal direk raak. Op hierdie oomblik in besonder. In hierdie afgelope week het ons ‘n tragedie beleef. Eiendomme is geplunder en gestroop. Op groot skaal is daar deur kriminele onder ‘n politieke vaandel gesteel.

’n Dief deur die erfsonde

As jy dink oor die agste gebod en wat dit in wese beteken is dit ’n ingewikkelde onderwerp. Wat is reg en verkeerd? Wat mag en wat mag nie? Wat is nou die fyn lyn tussen ’n guns vir iemand doen, of korrup wees? Wanneer koop jy iemand om, of sê jy net vir hom dankie? So maklik is al hierdie sake nie. Baie vinnig word dit moeilik en deurmekaar. Daarom gee die Here vir ons ’n gebod, wat juis hierdie saak aanspreek. Eenvoudig, kort en kragtig – Jy mag nie steel nie. In die kort opdrag word al die antwoorde gegee. Die Here beveel ons hierin dat ons in sy diens staan en nie in ons eie nie. Van nature is dit by ons nie die geval nie. In die Paradys het Adam en Eva by God gesteel. So het die mens ’n dief geword. Deur die geslagte word dit oorgeërf. Die mens erken nie God as die Besitter van alle dinge nie. Deur sy sonde en hoogmoed eien die mens dinge hom toe, wat hom nie toekom nie. Die mensdom staan op sy regte en dink dat die aarde aan hom behoort.

’n Rentmeester deur Jesus Christus

Deur Jesus Christus is ons nie meer gebonde aan die sonde nie. Deur Hom dra ons nie meer die naam dief nie, maar rentmeester. Ook in die opsig het Hy ons van die sonde verlos. As rentmeesters weet ons die aarde behoort aan die Here. Daarom bewerk ons dit met passie en ywer. Die Here het dit aan ons toevertrou. Ons mag saam met Dawid sing – ‘Rykdom en eer kom van U, en U regeer oor alles. In u hand is krag en sterkte, en dit is in u hand om enigiemand groot en sterk te maak. Daarom, ons God, prys ons U en loof ons u luisterryke Naam.’