Maleagi 2:1-9
Markus 15:21-41
‘Dan sal julle besef dat Ek hierdie beslissing oor julle gebring het, sodat my verbond met Levi kan bly bestaan, sê die Here, Heerser oor alle magte. My verbond met hom was bedoel om lewe en vrede te gee; Ek het dit aan hom gegee om ontsag te wek. Hy het vir My ontsag gehad en vir my Naam het hy gesidder.’
DIE PRIESTERVERBOND TUSSEN GOD EN SY VOLK
In die derde dialoog van Maleagi word daar na die priesterverbond verwys. Dit hou direk verband met die kruisiging van Jesus Christus. Die pad na die kruis toe is vir ons vanuit die evangelies bekend. Hy is verraai deur Judas en oorgelewer aan die soldate. Hy is gegesel, verhoor, veroordeel en vermoor. Aan die kruis is Hy die Vrydagoggend opgehang. Daar het Hy op Golgota as Hoëpriester sy offer gebring. Hierna verwys die profeet Maleagi in die gedeelte wat ons saamgelees het. Die verbond wat die Here met die Leviete opgerig het, dit word vervul deur Jesus Christus, op Goeie Vrydag.
Opgerig met die Leviete
In Maleagi 2 hoor ons van die verbond van Levi. Wat is hierdie verbond nou presies? Hierdie verbond is reeds jare van tevore tussen God en die stam van die Leviete opgestel. Dit staan in Numeri 25. Die Leviete sal vir die Here in die priesteramp dien. In Maleagi ontstaan hier ‘n probleem, want die priesters het hierdie verbond gebreek. Die oordeel van die HERE – Die verbond met Levi sal tot ‘n einde kom.
Vervul deur Jesus Christus
Die priesters staan nie meer in die Here se diens nie, maar in hulle eie. Die profesie van Maleagi het waar geword. Die oordeel van die Here oor die priesterstam gaan in vervulling. Dit is nou selfs die priesters wat daarop aandring dat die Hoëpriester Jesus Christus gekruisig moet word. Hy vervul hulle priesterdiens. Toe Christus gesterf het, het die voorhangsel in twee geskeur. Hy is ons enigste Middelaar.
Geleef in sy gemeentes
Elke gelowige deel in die amp van priester. Soos wat Petrus skryf – ‘nou is ons ’n heilige priesterdom.’ Ons het nie meer aardse priesters nodig nie. Ons Here Jesus self het met sy offer ’n einde daaraan gebring. Ons opdrag is om sy wil uit te leef as sy gemeentes. Ons leef in dankbaarheid teenoor Hom. Daarin bewaar ons sy leer en sy Woord.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com