Skip to content
Menu

Maleagi 2:7-3:5
1 Petrus 4:12-19

‘Kyk, Ek gaan my boodskapper stuur en hy sal ‘n pad voor My gereedmaak. Onverwags sal hy na sy tempel kom, die heer na wie julle soek, die boodskapper van die verbond na wie julle uitsien. Kyk, hy gaan kom, sê die Here, Heerser oor alle magte.’

DIE KOMS VAN DIE HERE DIE GOD VAN REG

In die vyfde dialoog tussen Maleagi en die volk, gaan dit oor die dag van die Here. Die Israeliete sien uit na hierdie dag. Hulle wag dat dit moet gebeur, maar op hierdie punt word hulle ongeduldig. Dit gaan nou so sleg met hulle, hulle dink dit is nou tyd dat die Messias kom. Op die dag van die Here het hulle verwag sal daar ’n groot koning kom met ’n groot koninkryk. Iemand wat al hulle vyande gaan verslaan. Op die dag sal Israel in ere herstel word. Dan sal die ander volke voor hulle buig en nie meer anders om nie. Maar die Israeliete verstaan verkeerd. Hulle oë en harte is nie gerig op die Here nie. Deur hulle sonde kyk hulle vas teen mense. Hulle is gerig na buite en nie na binne nie.

Die vrae van die moedelose volk

Die Israeliete is aan die kla. Hulle sit in sak en as oor die toestand van die land. In hierdie moedelose situasie, vra hulle vrae. Waar is die gerig van God? Waar is God se oordeel? Waar is die God van reg? Dit wil die Israeliete weet. Hoekom laat die Here toe dat die goddelose mense so verwoed op die aarde tekere kan gaan. Hulle sê: ‘Elkeen wat kwaad doen, is goed in die oë van die Here.’ In hierdie vraag sien ons hulle gebrek aan Godskennis.

Die antwoord van die Almagtige God

Die volk vermoei God met hulle vrae. Die Here handel volgens sy plan. Hy laat Hom nie voorskryf deur mense nie. Hy bevestig die antwoord wat Hy al jare vir sy volk gee. Die Engel van die verbond is oppad. Die volk moet geduldig wees. Soos wat die Here gesê het, so sal dit gebeur. Sy antwoord hoor ons in vers 1 – ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg vir My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ’n begeerte het. Kyk, Hy kom sê die Here van die leërskare.’ (1953 vertaling)

Die boodskap vir ons vandag

Vandag leef ons in ’n tyd waar goddelose mense ook verwoed tekere gaan. Ons leef in verwagting op die terugkoms van Jesus Christus. Tot die tyd toe moet ons nie moedeloos kyk na die goddeloses nie, maar ons moet na binne kyk en leef volgens die wil van die Here.

Gesprekspunte

  1. Wie is die boodskapper/Engel van die verbond? Oor watter verbond gaan dit hier?
  2. Wat leer jy in die gedeelte oor wie die Here is en watter bemoediging ontvang jy hieruit?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com

Sing: Ps 115-1:1,8,9; Ps 139-1:12; Ps 50-1:1,3,4; Ps 90-1:9; Sb 9-4:1,5,6.