Skip to content
Menu

Lees: Efesiërs 1:15-23, Johannes 17:1-8, HK Sondag 47.

Johannes 17:6 ‘Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord gehoorsaam.’

LAAT U NAAM GEHEILIG WORD

Gebed raak die kern van ons geloof. Die ou kerkvaders het oor die gebed geskryf: ‘Gebed is die lewe van die nuwe mens.’ Die lewe in verbondenheid met God. In die blywende besef dat Hy naby is in sy liefde, waarheid en genade. Die groot wins van die werk van Jesus Christus: as christen leef jy in die koninkryk van God. Dit is die lug wat jy elke oomblik inasem, die sfeer waarin jy jouself bevind. Gebed is die lewe van die nuwe mens. Maar, ons vergeet vinnig dat dit ons lewe is. Die verleider is daarop op uit om ons lewens in beslag te neem met ander dinge. Ook uit onsself kom ons tekort as dit by ‘n biddende lewe kom. Daarom verg gebed inspanning en stryd. Ons gaan vanaand verder met die onderwys wat Jesus oor gebed gee. Om ons te bemoedig en motiveer in ons gebedslewe. Hy het die Onse Vader vir ons gegee as ‘n model gebed. Vir ons ‘n spieël en stimulerende bron vir ons eie gebed. Die eerste bede van die gebed: ‘Laat U Naam geheilig word.’ Dit is nie sonder rede die eerste bede nie. Dit is die eerste woorde wat Jesus in ons monde lê. Ons primêre wens, ons eerste verlange en sterkste verwagting – dat God se Naam geheilig word…En dat ons daarin ons rol sien en dit aanpak. In die heiliging van God se Naam. In die loof en prys van God. Daarvoor is ons gemaak, geroep en verlos. ‘Laat U Naam geheilig word.’ – Die woorde lê Christus as eerste op ons lippe.

Die kennis van die Naam

Wat is die Naam van die Here? In die Ou Testament maak die Here sy Naam aan Moses bekend. Hy sê vir hom sy Naam is ‘Ek is’. Ons ken die Here deur sy eienskappe. In Sondag 47 word ses eienskappe genoem – almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid, waarheid. Om die Naam van die Here te heilig moet ons sy Naam ken. Daarvoor rus die Here ons toe met sy Gees en sy Woord. ‘En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus.’ (Johannes 17:3) Om God te ken beteken dat jy weet wie Hy is en jy weet wat Hy doen en daarin verbind wees met die geloof. Dit leer Jesus ons in die eerste bede.

Die roem in die Naam

Daar is soveel rede om die Naam van die Here te prys. Selfs in die swaarste en die moeilikste omstandighede sal gelowige kinders van die Here nog steeds sy goedheid raaksien. Daarom kan ons nooit ophou om sy Naam te loof en te prys nie. Tot in ewigheid sal ons dit doen. Altyd sal ons as kinders van die Here sy Naam loof en prys.

Liturgie: Ps. 89:1,6; Ps. 145:1,12; Ps. 150:1; Sb. 7-1:1,2,3.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com