Rigters 3:12-30
Johannes 4:31-34
HK Sondag 49
‘En Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.’
LEER MY NA U WIL TE HANDEL
Ons Here Jesus leer ons om te bid – Onse Vader wat in die hemele is: Laat U wil geskied. Wat gebeur as God aan hierdie bede gehoor gee? Dan doen Hy nie wat jy van Hom vra nie, maar jy gaan doen wat God van jou vra. Met oortuiging gaan jy met jou lewe na God se wil te toe en breek met alles wat teen die Woord van God ingaan. Dit is die inhoud van 3e bede. Ons ken die uitdrukking Deo Volente (DV). Dit beteken ‘as die Here wil’. Maar by die derde bede bid ons iets ander. ‘Laat U wil geskied’…deur my. Help my om te doen wat u sê. Buig my eie wil sodat dit parallel loop aan u wil. Maak my met hart en siel gehoorsaam aan U Woord. Leer my om met my hele lewe gerig te wees op die doen van u wet. Leer my om na U wil te handel.
Hoor die wil van God
In die tyd van Ehud word die volk Israel onderdruk deur drie naburige volke – die Moabiete, Ammoniete en die Amalekiete. Al drie dié volke het ’n noue familie verwantskap met Israel. Hierdie volke het geweet wie die Here is, maar het hulle rug op Hom gekeer. Alhoewel die Here die volke gebruik om Israel te straf, is hulle aksies nie reg nie. Aan die verbondsvolk van die Here mag daar nie geraak word nie. Dit keer die koms van die Messias Jesus Christus. Die Here se wil sal geskied. Dit sien ons in die optrede van Ehud. Deur hom het die Here ‘n boodskap vir koning Eglon. As rigter moet Ehud die wil van die Here uitvoer. Jesus leer ons bid – Laat U wil geskied. Dit is wat Jesus wil. ‘My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.’ Die ‘wil van God’ gaan nie hier oor sy verborge wil nie, dit gaan oor sy geopenbaarde wil. God se wil wat ons ken, wat aan ons bekend is. Sy heilige, liefdevolle, reddende wil. God se wil sê alles oor God se karakter. Die God wat vol heilige liefde is, is toegewyd aan sy kinders op aarde. Hy is die God wat ons roep om toegewyd te wees aan sy liefdevolle wil. Op die aarde net soos in die hemel.
Leef volgens die wil van God
Ons leef vandag is in ’n ander konteks. Ehud leef binne die verbond voor die koms van Christus. Met Jesus se koms is dié verbond vervul. Die Messias is gebore uit die verbondsvolk Israel. Deur sy dade word alle volke by die verbond ingelyf. Daarom is dit nie meer ’n stryd tussen volke nie, maar ’n stryd tussen geloof en ongeloof. Na Ehud het die land tagtig jaar rus. Die volk leef in vrede. Dit is goed om na die Here te luister. Om volgens sy wil te leef. Dit is gesond vir jou hart om Jesus Christus te aanbid. Om deurlopend deur die Gees op die spoor van God se Woord te bly. Om daagliks gehoor te gee aan wat die Here sê. Om te bid dat die Here jou ambisies in lyn bring met sy wil.
Liturgie: Sb. 1-2:1,2,3; Ps. 86:6; Ps. 40:4; Ps. 90:1,2,9.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com