Efesiërs 6:10-20
HK Sondag 52
‘Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim.’
DIE HERE BEWAAR ONS OP SY PAD
‘Lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.’
In die brief aan die Efesiërs klink die boodskap: dit is oorlog. Trek die wapenrusting aan. Die sesde bede sluit hierby aan. In Sondag 52 hoor ons die woorde: Aanval, doodsvyande, teenstand, stryd, oorwinning. Dit is werklik oorlog. Oorlog is intensief. Oorlog is uitputtend. By ’n oorlog is daar oorwinning, maar ook verlies. Oorlog is ’n lelike ding. En tog is dit vir ons ’n bekende beeld. Soldate is vandag ’n algemene verskyning. Een ding wat duidelik is in oorlog. Dit is ernstig, want in ’n oorlog gaan dit oor lewe en dood. Die oorlog waarin ons betrokke is, gaan juis hieroor. Ons as christene is soldate van Christus. Ons vorm deel van sy weermag en op die front is ons geslag aan die veg. Die vyand is nie opsoek na rykdom of land nie. Nee, hy wil net hulle doodmaak wat soldate van Christus is. Daarom leer die Here ons bid in die sesde bede – ‘En lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.’ Dit is ’n bede tot God ons Vader, dat Hy ons staande sal hou, in die oorlog waarby ons betrokke is.
Die aanvalle van die vyande
Die doel van ons doodsvyande is om ons van Jesus Christus af weg te dryf. Hulle wil hê dat ons, as frontsoldate van Jesus Christus, Hom verraai en die geloof prysgee. Daar word drie vyande genoem – die duiwel, die wêreld en ons eie vlees. Die stryd woed voort.
Die verdediging deur die Heilige Gees
Die Here rus ons toe in die stryd. Hy gee vir ons die wapenrusting van die geloof sodat ons staande kan bly. Hy gee vir ons die gordel van die waarheid, die borsharnas van geregtigheid, die skoene van bereidheid vir die evangelie, die skild van die geloof, die helm van verlossing en die swaard van die Gees.
Liturgie: Ps 147-1:1,2,7; Ps 68-1:1,2; Ps 68-1:9; Ps 47-1:1,3,4.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com