Johannes 15:1-8
Jesaja 5:1-7
‘Ek is die egte druiwestok en my Vader is die landbouer…Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie.’
Vrug dra tot eer van God
Jesus is in hierdie hoofstuk besig met sy afskeidswoorde. In dié afskeidswoorde gee Hy onderwys aan sy dissipels. Dit is wit Donderdag. Die aand voordat Jesus sou sterf. Jesus en sy dissipels het sopas klaar geëet, en nou is hulle is hulle oppad. Oppad na ’n park net buite Jerusalem. Na die tuin van Getsémané. Jesus wil gaan bid tot die Vader. Hulle is ’n geselskap wat wandel deur die strate van Jerusalem. Terwyl hulle onderweg is, bly Jesus in gesprek met sy dissipels. Hy bly aan die woord, en die onderwerp van die gesprek is Jesus self. Hy gebruik ’n beeld. Hy sê: ‘Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer, julle is die lote.’ Met die beeld is dit asof Jesus langs ’n wingerd staan, ’n loot in sy hand neem en sê: ‘Kyk, dit is die bedoeling dat jy vrug moet dra. Net soos hierdie loot van die wynstok. Om die rede is jy as mens geplaas op die aarde. Om vrugbaar te wees vir God. As jy nie vrug dra nie, knip God jou af en Hy gooi jou weg.
Jesus Christus die ware wynstok
Jesus sê: Ek is die ware wynstok. Hy sluit aan by dit wat bekend is in Israel. Israel was vol van wingerde. Vir die dissipels was dit bekend. Hulle het ’n wingerd geken en hulle het goed geweet wat ’n wynstok is. Die wingerd is die beeld van die uitverkore volk van God. Die Here het die volk Israel geplant as ’n wingerd sodat die Messias uit die volk gebore sal word. Uiteindelik is die Messias gebore. Jesus bevestig hier die profesieë van die Ou Testament – Hy is die ware wynstok.
Ons die vrugdraende ranke
Ons is die ranke aan die wynstok. In Jesus die wynstok moet ons bly. Jy moet in Hom bly sodat jy vrug kan dra. Dit is ons verantwoordelikheid. Jesus maak ook duidelik wat gebeur as jy nie in Hom bly nie. Dan val die rank op die grond, dan raak jy los van Jesus en God. Die ranke wat nie aan die wynstok verbind is nie verdor, dit gaan dood. Hulle word bymekaar gehark en word uiteindelik verbrand.
Gesnoei om meer vrug te dra
Die unieke van ’n wynstok is dat hy vanself alle kante uitgroei. Die ranke groei vinnig en wyd. ’n Goeie wynbouer weet dat hy sy ranke moet snoei. As hy hulle snoei word die groei op die regte punte gekonsentreer. In ons geloof word ons gereeld gesnoei. Deur die bediening van die Woord word jy as rank gesnoei. Dit wat nie reg in jou lewe is nie word reggestel sodat die krag en energie gebruik kan word om goeie vrugte te dra.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com