Lees: 1 Samuel 24 Teksvers:13 Sing: Ps 93:1,2,4; Skb 14-1:1,2; Skb 12-3:1,2.
Gehoorsaamheid aan die Here, bevestig my vertroue in die Here
- Kom hierdie regtig van die Here af (My twyfel)
- Die Here dring ons om na te dink
- Die handeling van die Almagtige God in ons lewe
Was jy al ooit in ‘n situasie waarin jy en self mense naby aan jou, gedink het dat iets deur die Here vir jou bedoel is? Maar om dan werklik daaroor te begin twyfel of dit werklik van die Here is of nie? So maklik kan jyself en ander mense na ‘n oënskynlik goeie geleentheid kyk en selfs dink dat die Here die saak vir jou in jou skoot gee om te doen soos wat jy meen reg is. God werk deur sy Woord en Gees om ons te keer en ons te laat besef dat ons innerlike onrustigheid in so situasie, ons dring om na te dink en alleen dit te doen wat die Here van ons vra.
Dawid beleef in hierdie perikoop ‘n besondere geleentheid om dit, wat oënskynlik reg lyk en dit waartoe sy manne hom aanmoedig, te doen. Maar daar is iets wat nie reg is nie. Dawid se gewete pla hom. Die vraag is of die Here die situasie so beskik het dat hy van Saul kon ontslae raak of is dit ‘n toets van sy geloof, vertroue, gehoorsaamheid en afhanklikheid aan die Here?
Dit is immers nie ekself, mense of my omstandighede wat bepaal wat ek as gelowige doen of dink of sê nie. Kom ons luister na die Almagtige God, wat ons aanbid, se manier van handel in die lewe van mense. Kom hoor hoe die Here sy wil, wese en werke in hierdie gedagte-eenheid aan ons openbaar.