Galasiërs 2:1-10
‘Die saak het ontstaan omdat skynheilige broers, wat onder valse voorwendsels ingesmokkel is, ingesypel het om te spioeneer op die vryheid wat ons in Christus Jesus het. Hulle doel was om van ons slawe te maak. Ons het nie vir ‘n oomblik in onderdanigheid aan hulle toegegee nie, sodat die waarheid van die evangelie onder julle behoue sou bly.’
DIE VRYHEID WAT ONS IN CHRISTUS JESUS HET
Uit die brief van die Galasiërs sien ons dat Paulus homself moet verdedig. Baie spesifiek moet hy dit doen teen spesifieke Joodse teenstanders. Sy brief rig hy nie aan hulle nie. Hy skryf aan die gelowiges in Galasië. Hy sien die gemeentes daar as slagoffers van religieuse propaganda. Hierdie gemeentes, wat bestaan uit gelowiges uit die heidendom, is hierdeur in verwarring gebring. Hoe het dit gebeur? In die gemeentes het daar skynheilige mense ingekom. Onder valse voorwendsels is hulle ingesmokkel. Hulle kom om te spioeneer op die vryheid wat ons in Christus Jesus het. Hulle doel – Om ons slawe te maak. Dit klink vreemd. Hoekom sal iemand dit wil doen? Tog gebeur dit. Altyd deur is die duiwel besig met sy aanvalle. Wil hy ons vryheid in Christus wegvat. Dit doen hy op verskillende maniere. Deur ‘n tydsgees van tradisionalisme of deur ‘n tydsgees van liberalisme. Ondanks die tyd waarin ons leef mag ons vasstaan in die vryheid wat ons het. Daarvoor moet die waarheid van die evangelie behoue bly.
Die aanval op die vryheid
In Galasië word die evangelie bedreig. Die aanval daar gaan oor twee sake – Dit gaan oor die besnydenis en die instandhouding van die Joodse feesdae. Die aanval op die gemeente kan ons baie mooi ontleed. Want hier gaan dit oor iets wat deur die geskiedenis van die kerk baie keer gebeur. Jy sien dat daar altyd weer mense kom wat ‘n evangelie + verkondig. Jesus + die een en die andere. Want kan dit nou regtig so eenvoudig wees? Jesus Christus alleen? Geloof en genade alleen? Net jou hande ophef en sê: Dankie? Dit is tog nie moontlik dat dit so maklik en eenvoudig kan wees nie. Jy moet tog seker ook self iets daarvoor doen. ‘n Skerp aanval, want as jy van buite na kerkmense of gelowiges kyk dan lyk dit op die oog af of dit regtig so werk.
Die standvastigheid in die vryheid
In vers 5 staan – Ons het nie vir ‘n oomblik in onderdanigheid aan hulle toegegee nie… Die evangelie wat Paulus aan die heidene verkondig, is dieselfde as dit wat die ander apostels verkondig. Hulle vind mekaar in die waarheid. Hulle vind mekaar in Jesus Christus. Hy is hulle fondament. Dit is Hy wat hulle verkondig.
Die stryd vir die vryheid
‘…sodat die waarheid van die evangelie onder julle behoue sou bly.’ Daar sal altyd mense wees wat die vryheid wil wegvat. Daarom gee die Here vir ons die Woord. Om te bly by die suiwer evangelie. Om die stryd aan te gaan met hulle wat ons van die vryheid wat ons in Christus Jesus het te wil beroof.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com