Skip to content
Menu

Lees: Handelinge 13:1-12 Teksvers: 2 Sing: Ps. 147:1,2,7; Ps. 24:1,3; Ps. 118:1; Ps. 18:1,2,3.

‘Toe hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê: Sonder Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waartoe Ek hulle geroep het.’

IN DIENS VAN DIE HERE

Wat is God se plan met my? God het tog ’n plan met my lewe? ’n Vraag wat nogal gereeld gevra word, maar dit is vrae wat uit ’n verkeerde hoek kom. Die vraag hoort te wees – Hoe deel ek in God se raadsplan? Dit is baie groter as een individu. As ’n Christen behoort jy heeltemal aan die Here. Met dit wat jy doen,  waarmee jy besig is. Dit behels ons hele lewe. In elke beroep, in elke staat van lewe. Of jy ’n kind is, of ’n pensioenaris. Elkeen van ons word opgeroep, tot volkome toewyding aan die Here. In dit wat jy doen, dien jy Hom. In Romeine 6:22 skryf Paulus – ‘Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe.’ In die gedeelte in Handelinge het ons gelees, hoe die kinders van die Here in sy diens staan. Ook het ons gelees van die teenwerking van die duiwel. Daar is hulle wat in die diens van die Here staan. Daar is ook hulle wat in die diens van die duiwel staan. Vandag is dit nog net so. Sake het nie verander nie. Deur sy Woord rus God ons toe, om diensbaar te bly.

Gelei deur die Heilige Gees

In Antiochië gee die Heilige Gees, tydens ’n erediens, opdrag dat Paulus en Barnabas afgesonder moet word. Hulle dienswerk in Antiochië is voltooi vir eers. Die ander herders en leraars kan die gemeente bly bedien. Dit is nie die gemeente wat die twee manne uitstuur nie. Hulle roeping kom direk van die Heilige Gees af. Hulle moet vertrek na Ciprus toe.

Mislei deur die duiwel

Ciprus is ’n groot eiland in die Middellandse see. Dit was onderdeel van die Romeinse Ryk. Die keiser het daar vir Sergius Paulus as goewerneur aangestel. Hierdie stadhouer is mislei deur ’n pion van die duiwel. Een van sy wyse manne, ’n towenaar met die naam Bar-Jesus, het hom in die duisternis gehou. Hy was ’n kind van die duiwel. Hy spreek Paulus en Barnabas teen.

Verbly deur die geloof

In die harte van die uitverkorenes sal die Here geloof werk. Sergius word bevry uit die vangnet van die duiwel. Sy oë word geopen vir die waarheid. Hy was verslae oor die leer van die Here en het geglo. Hy sit nie meer langer in die duisternis vas nie.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com