Skip to content
Menu

Lees: Handelinge 9:1-19 Teksvers: 15 Sing: Ps. 8:1,2,3,4; Ps. 130:1,2; Ps. 64:1,7; Ps. 91:1,8; Ps. 8:5,6,7.

‘Maar die Here sê vir hom: “Gaan, want Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel…’

SAULUS SE ONTMOETING MET JESUS CHRISTUS

In Handelinge 9 lees ons van die Damaskus ervaring van Paulus. Dit is seker een van die duidelikste voorbeelde in die Bybel, hoe die Here iemand se lewe radikaal verander. Hoe Hy ’n vervolger ’n volger maak. Hoe Hy in ’n oogwink iemand se lewe verander. Hoe Hy ’n man wat alles in sy vermoë doen, om die verkondiging van die evangelie te stop, gebruik as ’n kragtige instrument in sy raadsplan. Dat die man Saulus presies gaan doen wat hy wou keer. Sy menslike doel was om Christus teen te werk. God se plan was dat Hy sy evangelie verkondig, tot aan die uiteindes van die wêreld. Die Here transformeer Saulus die vervolger, na Paulus die volger. Hierin word ons vandag aangespreek. Want ook ons is vandag instrumente in die hand van die Here. Instrumente wat die Here elkeen op sy unieke manier gebruik. Vandag staan ons in die Here se diens. Is ons besig om die evangelie hier te verkondig en uit te leef. Voer ons die stryd teen ons vervolger. Deur die Woord van die Here word ons vandag bemoedig in hierdie stryd. Juis daarin dat Hy sy Almag aan ons bekend maak. In die Skrifgedeelte sien ons, dat niks by God onmoontlik is nie.

Saulus se stryd teen Christus

Saulus – ‘Ek is ’n Jood, gebore in Tarsus in Cilicië, maar opgevoed in hierdie stad (Jerusalem) aan die voete van Gamaliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet.’ ’n Fariseër gebore uit ‘n geslag van Fariseërs. Vir hierdie man was Jesus Christus ’n godslasteraar. Hoe kan iemand Hom nou die Seun van God noem? So iemand moet sekerlik gedood word volgens die wet van die Here. Vanuit die agtergrond vervolg hy die jong gemeente van Jesus Christus.

Saulus se roeping deur Christus

Op pad Damaskus toe word Saulus se lewe radikaal verander. Die Here gryp in. Skielik straal daar ’n lig vanuit die hemel en ’n stem sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? …Ek is Jesus wat jy vervolg.’ Hierdie man roep die Here om in sy diens te staan. In vers 15 sê die Here dit vir Ananias – ‘Gaan, want hy is vir My ’n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel.’

Saulus se bekering in Christus

In Saulus se hart het die Here bekering gewerk. Na hierdie gebeurtenis bevind Saulus hom in ’n huis in die Reguitstraat en daar bid hy. Hy het vervul geword met die Heilige Gees en is gedoop. ’n Radikale vervolger van Christus word sy radikale volger.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com